MOSSELBAAI NUUS - Volgens die SA Weerdiens het Mosselbaai die afgelope naweek goeie neerslae reën beleef, met die meeste reën wat in die vroegoggendure van Maandag, 11 Maart geval het.
Onderskeidelik het Mosselbaai volgens die weerdiens op 8 Maart, 11.2mm, op 9 Maart, 4.2mm, en op 11 Maart, 18.8mm reën gekry.
Neerslae verskil van woonbuurt tot woonbuurt. Berigte van tot soveel as 20mm is van inwoners van Danabaai en Hartenbos Heuwels na Maandagoggend se goeie neerslae ontvang.
Berigte is ontvang van weerskade, onder meer op die gholfbaan van Pinnacle Point waar weerligskade na bewering aangerig is.
Waterbeperkings
Die Karoo-streek het vir die eerste keer vanjaar 'n toename in gemiddelde damvlakke gesien, aldus James-Brent Styan, die woordvoerder van die LUR van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, minister Anton Bredell.
Hy sê die gemiddelde damvlak in die Gouritzrivier-opvanggebied is tans 19.3%. Dit vervat damme soos die Gamkadam in Beaufort-Wes wat tans 9,4% vol is nadat dit vir meer as die afgelope twee jaar leeg was. Dié dam se opvanggebied het die afgelope sewe dae 13mm reën gekry.
Op George is sedert 7 Maart 33.3mm reën gemeet en die damvlak van die Tuinroetedam het van 81.07% tot 85.42% toegeneem.
Waterbeperkings in die Suid-Kaap is egter steeds tot verdere kennisgewing van krag.
Die knellende droogte noodsaak steeds dat baie omsigtig met water gewerk moet word. In Beaufort Wes, waar foto's en video's van riviere in vloed op sosiale media versprei is, geld vlak 5-waterbeperkings steeds. Vlak 3-waterbeperkings is ook steeds van krag in Knysna, Laingsburg, Oudtshoorn en in die Zoar en Vanwyksdorp-gedeeltes van Kannaland-munisipaliteit. Daarenteen geld vlak 4-waterbeperkings in die Ladysmith/Calitzdorp-gedeeltes van Kannaland, asook op Prins Albert.
Damvlakke
Mosselbaai-munisipaliteit het onlangs laat blyk dat die gevaarligte flikker, hoewel tans steeds vlak 1-waterbesparingsmaatreëls toegepas word. Ook op Bitou en Hessequa geld vlak 1-waterbeperkings. Op George geld steeds vlak 2B-waterbeperkings.
Die goeie reëns in die opvangsgebied van die grootste damme wat Mosselbaai van water voorsien het 'n verskil aan plaaslike damvlakke gemaak, maar die volle afloop kon tot en met druktyd nie gemeet word om die werklike impak weer te gee nie.
Tog was damvlakke vergeleke die vorige week effens hoër, met die Wolwedansdam op 68.68% (verlede week 66.72%), die Klipheuweldam op 48.03% (50.20%), en die Ernst Robinsondam op 101.35% (95.52%).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'