MOSSELBAAI NUUS - Ethan-projek (Education and Training Hub) het Saterdag, 3 September, hul tweede fondsinsameling in die vorm van 'n damestee met die tema Bloom where you are planted, aangebied.
Die direkteur van die Ethan-projek, Diane Hobbs het 'n voorlegging gedoen oor die aanwending van fondse wat verlede jaar ingesamel is.
Volgens Hobbs, is 'n ADOS-toets wat gebruik word om outisme te diagnoseer, aangekoop en geïmplimenteer.
Mosselbaai se eie mnr Suid-Afrika, semi-finalis, Deon Lensing het met die gaste gesels oor die anti-boelie werkswinkels wat hy en Karen Gray aanbied. Volgens Hybrie Meyer van die Ethan Projek, was die damestee 'n reuse sukses. Sy sê: "Die diverse verteenwoordiging uit die gemeenskap wat hul tyd en beursies oopgemaak het om hierdie organisasie te ondersteun, getuig hiervan.
Danksy die hulp en finansiële ondersteuning kan die Ethan-projek ons weerbare lede in die gemeenskap help met bronne van internasionale gehalte".
Die fondse van hierdie jaar se damestee gaan aangewend word vir die Spelling2Communicate intervensie wat gebruik word vir outiste wat onbetroubare spraak het. Sowat 110 vroue het die damestee bygewoon.
Hybrie Meyer, Diane Hobbs, Karen Gray en Deon Lensing by die damestee op 3 September.
Duma Miningiswa, voormalige hoof van die departement van sosiale ontwikkeling, ontvang 'n sertifikaat van Cherise Fourie. Zettie Jonker van die Zettie Jonker Hulpsentrum staan agter haar en Diane Hobbs, heel links.
Daar was heerlike geskenke en kos by die damestee wat by Pinnacle Point gehou is.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'