MOSSELBAAI NUUS - Die burgerregteorganisasie, AfriForum dreig met regsaksie om die gebruik van ivermektien as 'n middel vir behandeling van Covid-19 goedgekeur te kry.
AfriForum volg kort op die hakke van NFP-parlementslid, Ahmed Emam se dreigende hofsaak om die goedkeuring vir die gebruik van die middel te finaliseer.
Die middel word gebruik om wurms en parasiete by diere te bestry en in baie lande is dit ook vir menslike gebruik geregistreer.
Die Suid-Afrikaanse reguleringsowerheid vir gesondheidsprodukte (Sahpra) het egter die medikasie verbied.
Intussen kan plaaslike koöperasies nie voorbly met die groot aanvraag van ivermektien nie. Boonop het die prys van die middel op die swartmark die hoogte ingestyg.
Die Mossel Bay Advertiser het met verskeie inwoners gesels oor die gebruik van die middel. 'n Groot verskeidenheid studies in verskeie lande toon dat ivermektien effektief kan wees om Covid-19 te behandel.
Bekgeveg
Maar, polemierk het wêreldwyd oor dié middel ontstaan met sommige geleerdes wat glo dit het potensiaal en ander wat totaal gekant is daarteen. Verskeie inwoners het aan die Advertiser bevestig dat hulle reeds ivermektien as voorkomingsmiddel vir Covid-19 drink.
Nog 'n inwoner wat positief vir Covid-19 getoets het, het aan die Advertiser gesê hy was vir 'n dag baie siek, maar nadat hy ivermektien gedrink het, het hy beter gevoel.
'n Plaaslike apteker is sterk gekant teen die middel en sê dit is slegs op 'n dier se metabolisme getoets. "Jy kan nie iets wat vir diere ontwerp is vir mense gee nie. 'n Mens se sisteem verskil van dié van 'n dier."
Dieselfde storm het oor die gebruik van malaria-pille gewoed. Sodra die middel vir menslike gebruik goedgekeur is, en nagevors is, is dit 'n ander storie. Covid-19 is 'n virus. Ivermektien word vir die behandeling van parasiete gebruik.
'n Plaaslike dokter het bevestig dat hy egter wel die middel sal gebruik indien hy Covid-19 sou kry. "Ek sal dit nie as voorsorg drink nie, maar beslis probeer indien ek sou siek raak."
Intussen is daar nie 'n klinkklare antwoord oor of die middel wel teen Covid-19-infeksie sal help nie.
Sahpra hou vol dat daar geen bevestigde data of kliniese bewyse is dat ivermektien vir die behandeling van Covid-19 kan werk nie.
"Ek sal enigiets drink wat moontlik kan help indien ek Covid-19 opdoen," het 'n inwoner aan die Advertiser gesê.
Wat is jou mening oor die gebruik van die middel? Stuur jou kommentaar na louise@groupeditors.co.za
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'