Gallery
MOSSELBAAI NUUS - Inwoners en werknemers van Santos Haven-aftreeoord op Mosselbaai is verlig dat niémand Dinsdagoggend, 9 Augustus beseer is nie toe 'n groot gedeelte van die eetsaal se dak, sowat 'n halfuur vóór middagete om 12:00 aan die inwoners bedien sou word, inmekaar getuimel het.
'n Boukontrakteur was besig om lekkasies aan die dak bó die eetsaal reg te maak, toe die voorval plaasgevind het.
FOTOGALERY:Santos Haven-aftreeoord se dak tuimel inmekaar
Die Mossel Bay Advertiser het betroubaar verneem dat 'n werknemer minute voor die voorval nog in die eetsaal doenig was, maar toe uitgestap het om haar selfoon te beantwoord.
Niemand, ook nie die personeel wat op die dak gewerk het, is tydens die voorval beseer nie.
Nooddienste het na die perseel gehaas omdat dit nie dadelik bekend was of die eetsaal leeg was nie. Die kragtoevoer in die beskadigde area is kort daarna afgeskakel omdat daar lewendige kragdade was.
Vergadering
Op Woensdag, 10 Augustus het bestuur van die aftreeoord, tesame met 'n verteenwoordiger van die Mosselbaai Rotariërklub en inwoners van Santos Haven, 'n vergadering gehou om die pad vorentoe te bespreek.
Die waarnemende bestuurder van Santos Haven het aan die Advertiser gesê die aftreeoord beplan nie om nou al 'n verklaring oor die voorval uit te reik nie. "Niemand het seergekry nie en alles is onder beheer. Alle prosedures word gevolg."
Rotariër-projek
Santos Haven is in 1985 as 'n projek deur die Mosselbaai Rotariërklub van stapel gestuur. Die aftreeoord het begin met 50 wooneenhede in 1986 en het volgens die aftreeoord se webwerf tans meer as 208 eenhede met twee dienssentrums.
Na wat verneem word, word die inwoners van eenhede wat deur die voorval geraak is, deur die ander dienssentrum se kombuis van kos voorsien.
Die voorsitter van die uitvoerende komitee van die Mosselbaai Rotariërklub, Fiona Williamson het aan die Advertiser gesê hulle wag op die ingenieursverslag.
'n Boukontrakteur was glo besig om lekkasies op die dak te herstel kort voordat dit inmekaar gesak het.
Santos Haven is in 1985 begin.
'n Groot gedeelte van die dak is beskadig. Teen die ter perse gaan was dit nog nie bekend wat die omvang van die skade is nie.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'