Só het 'n vrou gesê toe sy by 'n plaashuis se agterdeur uitstap en verras is deur agt polisielede wat op Maandag, 24 Februarie, op die plaas De Gang, in Ruiterbos toegesak het tydens 'n massiewe, fyn beplande dwelmoperasie.
Lede van die Groot-Brakrivier SAPD, waaronder kst Johan Marais, die sektorbevelvoerder, George se Anti-dwelmspan en die K9 Mosselbaai Honde-eenheid het nie doekies omgedraai nie toe hulle flink en met sekerheid, in gure weer, die een na die ander daggaboom op die plaas ontdek het. Die verdagtes het woordeloos toegekyk hoe hulle daggaboompies die een na die ander uitgestal word.
Na 'n paar uur se ondersoek het die polisie 53 daggabome, 466g los dagga, 48 toetsbuise vol daggasaad, 24 vuurhoutjieboksies gevul met daggasade en R3 040 kontant op die perseel gevind.
Daggabome is sowat 150m van die huis gevind en daar was ook bome in arbeiders se huise versteek. Verlepte daggabome het eenkant in 'n varkhok gestaan. 'n Kamer in die plaashuis is deur een van die verdagtes uitgewys, waar nog dagga in 'n kas gevind is.
Die geskatte waarde van die dwelms is sowat R77 000.
Die vrou (54) was saam met twee ander verdagtes, 'n 56-jarige vrou en 'n 55-jarige man, in die woonhuis en hulle het hul volle samewerking aan die polisie gegee.
Die drie verdagtes het op Woensdag, 26 Februarie in die Mosselbaai Landdroshof verskyn. Die man is op waarskuwing vrygelaat, een vrou is vrygelaat en die hoofverdagte was teen druktyd steeds in aanhouding. Sy verskyn weer op Maandag, 3 Maart in die hof.
*In 'n afsonderlike saak het kst Johan Marais, in samewerking met die George Teen-Dwelmspan, onlangs ook beslag gelê op 22 daggabome- en toerusting by 'n huis in Reebok, Groot-Brakrivier. Die waarde van dié vonds is ongeveer R82 000. Die verdagtes in hierdie saak het intussen in die hof verskyn en is op borgtog vrygelaat.
Kst Johan Marais van die Groot-Brakrivier SAPD ontdek die toetsbuise wat met dagga gevul is.

Die plaashuis.
ARTIKEL: LOUISE KARSTEN, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'