MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai-inwoner Patricia van Zyl het al laggend die duisende meters na bo geniet soos haar vlug van George na Kaapstad opgestyg het - dit was, op 80-jarige ouderdom, die eerste keer dat sy gevlieg het.
Van Zyl sê dogter, Lorraine le Grange, vertel bietjie meer van haar ma en hierdie uiteindelike ervaring in haar ma se lewe.
"Sy het haar hoërskoolloopbaan hier op Mosselbaai voltooi, waar sy ook ons pa ontmoet en getrou het - en al drie ons kinders is hier gebore. Ons het baie getrek as gevolg van die spoorweë wat my pa verplaas het (hy was 'n treindrywer), maar toe hulle met pensioen gaan, het hulle in 1996 teruggetrek," sê Le Grange.
Met die dat hul pa in die spoorweë werksaam was, kon hulle al die jare ook gratis vlieg met SAL: "maar hy wou nooit nie - hoogtevrees".
So het Van Zyl ook nooit gevlieg nie. En sy wou dit graag doen.
Le Grange sê hulle pa is in Junie 2024 oorlede en so het dit gebeur dat haar ma nou tussen die kinders kuier.
"Ek sou haar Kaap toe gevat het om vir my broer te gaan kuier. Ek onthou toe dat sy nog altyd wou vlieg en het dit in 'n gesprek genoem aan my broer en my skoonsus sê toe, maar my ma het gesê dit is op haar bucketlist om dit nog te doen. Ek het sommer dieselfde aand gaan kyk wat die kostes is en impulsief sommer die kaartjies bespreek."
Lorraine le Grange en haar ma, Patricia van Zyl oomblikke voor hulle in die vliegtuig klim.
Aanvanklik, vertel Le Grange, was dit vir haar ma 'n effens senutergende ervaring, "maar toe ons eers in die vliegtuig is, was sy bly".
"Met die opstyg het sy net gelag. Sy het die heeltyd net by die venster uitgekyk en gesê hoe mooi dit is en sy geniet dit baie.
Patricia van Zyl kyk by die vliegtuigvenster uit.
"Ek het toe vir ons 'n heerlike broodjie en tee bestel, wat sy terdeë geniet het. Met die landslag het sy bietjie geskrik met toe die vliegtuig grondvat, maar dit was 'n awesome ervaring vir haar."
Wanneer sy nie eerste-ervarings aandurf nie, hou Van Zyl daarvan om aan die gang te bly en is gereeld in die tuin besig. Sy stap baie en het al die jare gebrei, naaldwerk gedoen "en natuurlik beskuit en koekies gebak - haar gemmerkoekies is die beste," sê Le Grange.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’