MOSSELBAAI NUUS - Bekroonde skrywer Marita van der Vywer het ruiterlik erken dat sy as hoërskoolkind gedink het gedigte is vervelig.
Só het sy aan leerders van Curro Mosselbaai beken tydens 'n skolebesoek vandeesweek. Van der Vyver se jeugroman, Al wat ek weet, is as voorgeskrewe werk deel van die kurrikulum by dié skool.
"Ek het gedink gedigte is geskryf deur dooie ooms en dit gaan net oor droogte en plase," het Van der Vyver vertel terwyl die jonges onderling gelag het vir haar stelling.
Ironies genoeg, is dit juis die gedigte van Antjie Krog, wat haar eerste digbundel in haar hoërskooljare gepubliseer het en waarmee Van der Vyver haarself kon identifiseer, wat aanleiding daartoe gegee het dat sy vandag 'n suksesvolle skrywer is.
"Daardie paar reëls uit Selfportret in Wiskunde-klas het my lewe verander. Daar het 'n deur in my kop oopgegaan," het 'n besielde Van der Vyver uitgebrei. Oor haar reis as skrywer het sy verder vertel dat sy na skool nie juis meer gedig het nie, "uit respek vir die kuns" aangesien die skryf van gedigte eintlik baie ingewikkeld is, aldus Van der Vyver.
Van der Vyver het vertel van haar "skok" toe haar eie tienerseuns ophou lees. Dít het haar glo ook aangespoor om jeugromans te skryf. Boonop het haar een seun se voorliefde vir hip hop-musiek inspirasie gelewer vir Al wat ek weet waarin die hoofkarakter homself dikwels uitdruk en laat geld in rymklets. Van der Vyver het tot die leerders se groot vermaak van hierdie verse ritmies voorgehou wat sy op 'n aantal A4-folios saamgebring het.
Sy het haar gesprek afgesluit deur te benadruk dat haar missie is om jongmense te laat besef, dat daar vir elke mens 'n boek is wat die "deur in jou kop laat oopgaan".
"'n Mens moet net daardie boek ontdek." Hierna is daar geleentheid vir vrae gegee.
Dané Prins, ook bekend as die kletsrymer Onblusbaar, 'n graad 11-leerder van Curro Mosselbaai, het hierna 'n impromptu-optrede gegee waarmee Van der Vyver kennelik beïndruk was.
Die jonges het ook met oorgawe meegedoen aan die neem van selfies wat Van der Vyver op haar facebookblad vir skolebesoeke sou plaas na afloop van die sessie.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'