MOSSELBAAI NUUS - "Die Demokratiese Alliansie kan nie 'n beleid ondersteun wat die staat die alleen-eienaar van alle grond in Suid-Afrika maak nie. Suid-Afrikaners kan nie 'n korrupte regering toelaat om alle grond, ook residensiële grond, in trust te hou nie."
Dié beleidstandpunt was een van 'n paar kwelpunte wat DA-partyleiers onder leiding van die DA se Wes-Kaapse leier, Bongkinkosi Madikizela vandeesweek aan lede en aktiviste van die party op Mosselbaai verduidelik het.
Grondkwessie
"Die DA is nie gekant teen grondhervorming nie. Die DA glo steeds in versoening en die regstelling (reconcilliation and redress) van dit wat in die verlede nie reg gedoen is nie.
"Wat landbougrond betref, is dit die DA se mening dat diegene wat graag landbouers wil word, toegelaat en ondersteun moet word om te boer. Intree-landbouers moet deur gevestigde landbouers ondersteun en gementor word. Wat landbougrond betref, moet die deelskemas toegelaat word om voort te bestaan.
"In die Wes-Kaap het die DA 'n 62% suksesratio met grondhervorming."
Wat residensiële grond betref, sê Madikizela, wat ook die LUR vir menslike nedersettings in die Wes-Kaap is, moet eienaarskap bevorder word sodat huiseienaars deel van die eiendomsekonomie kan word. Madikizela sê eienaarskap moet titelaktes insluit.
"Die DA is van mening dat die Grondwet nie gewysig hoef te word om grondonteiening te bevorder nie. Selfs die ANC, na 'n twee dae lange Lekgotla, het tot die slotsom gekom dat dit onnodig is om Artikel 25 van die Grondwet te verander.
"Onoordeelkundige grondonteiening sal die ekonomie ontspoor, dit sal die ekonomie ruïneer. Selfs Zimbabwe se President Emmerson Mnangagwa waarsku Suid-Afrika teen grondonteiening. Die regering beskik nie oor die kapasiteit om die aansprake op grond effektief te kan bestuur of daarin te voldoen nie."
Behuising
Madikizela het dorpsleiers gewaarsku om die vraag na behoorlike behuising nie gering te skat nie. "Mense wat vir jare reeds op behuisingswaglyste is, kan nie oorgesien word net om huise aan mense in informele nedersettings te voorsien nie. Dis noodsaaklik om konsekwent te wees. Mense in informele nedersettings wat onlangs in die area gevestig het, mag nie bevoordeel word bo inwoners wat hier gebore is nie." Hy het gevra dat die prioriteite van behuisingswaglyste hersien moet word.
Die uitvoerende onderburgemeester, raadslid Dirk Kotzé en ander hooggeplaaste gaste tydens die byeenkoms.
"In die Wes-Kaap is reeds meer as 90 000 titelaktes vir huise aan begunstigdes oorhandig. Daar is egter 'n kommerwekkende hoë persentasie in nasionale terme van mislukkings met grondhervorming, veral omdat begunstigdes die grond nie kon bewerk nie en dit bloot herverkoop het."
Mosselbaai
Madikizela het Mosselbaai-munisipaliteit met die sesde agtereenvolgende skoon oudit, die 2017 Dorp van die Jaar-status en die jongste navorsingsresultate van Ratings Afrika, waarvolgens die dorp vir finansiële volhoubaarheid as die beste in die land beskou word, gelukgewens.
"Ek kan byvoeg dat Mosselbaai die munisipale raad met die beste, mees gedissiplineerde koukus is," het hy bygevoeg.
Die Wes-Kaapse LUR vir plaaslike regering, minister Anton Bredell, sê gesprekke oor die uitvoerende burgemeesterstelsel vorder goed. Hy het na onlangse ingrypings by plaaslike owerhede gewys, en gesê gevalle van teistering of oneerlike selfverryking sal nie geduld word nie.
Rassisme
Madikizela het gemaan dat partyleiers en ondersteuners nie verswelg moet word in die rasseverhaal waarmee die opposisiepartye die DA wil brandmerk nie.
"Die DA is 'n diverse party wat daarin slaag om Suid-Afrikaners van verskillende agtergronde te verenig. Hierdie eienskap word juis deur opposisiepartye teen die DA ingespan, maar lojale ondersteuners en leiers moenie toelaat dat die uitdagings wat in die oploop na die 2019-verkiesings opgedis gaan word, hulle verswelg nie."
Mervin Barnard wou meer te wete kom oor die beleidsraamwerkwysigings vir gewone inwoners.
Madikizela het teen rassisme gewaarsku. "Politieke partye maak geen geheim van hul rassistiese ingesteldheid jeens Blankes nie, hulle het trouens oorlog teen Blankes verklaar.
"Die DA glo Suid-Afrika is almal se tuiste. Enige gesprek oor rassisme moet daarop ingestel wees om mense te versoen, nader aan mekaar te bring."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'