MOSSELBAAI NUUS - Goeie vonnisse wat insluit twee rowers wat tronkstraf ontvang het, asook 'n dronkbestuurder wat swaar gestraf is, is van die suksesvolle vervolgings onlangs behaal deur die Da Gamaskop-polisie.
'n Vyf-en-twintigjarige vrou is gevangenisstraf opgelê vir 'n rooftog waarby sy betrokke was op 27 Julie vanjaar.
Tydens die voorval is 'n 36-jarige man, wat na bewering besig was om pizzas af te lewer, deur vier mans oorval en beroof nadat hulle sy voertuig se ruit stukkend geslaan het.
Die vrou, Daleen Matthee alias Mameke wat glo die pad aan die slagoffer verduidelik het, was ook in die voertuig ten tye van die voorval. Die mans het die slagoffer met 'n mes gedreig en na die rooftog op die vlug geslaan. 'n Selfoon en kontantbedrag is geroof.
Die vier mansverdagtes is nooit voor stok gekry nie, maar die vrou is positief met die voorval verbind.
Sy is skuldig bevind aan roof, asook poging tot roof en is vier jaar gevangenisstraf, asook 'n verdere een jaar gevangenisstraf, opgeskort vir vyf jaar opgelê in die Mosselbaai-landdroshof.
'n Vier-en-twintigjarige man wat sy slagoffer in Mei 2016 in Van Zylstraat, Uitbreiding 8 met 'n mes gedreig en van R700 kontant beroof het, is ook vroeër vandeesmaand gevangenisstraf opgelê.
Die voorval het om 09:00 die oggend plaasgevind. John Gershwin Jansen, alias Zammie, het vyf jaar gevangenisstraf vir roof ontvang.
'n Vier-en-veertigjarige vrou wat om 20:00 op 30 Mei 2016 in hegtenis geneem is op Louis Fourieweg vir die bestuur van 'n motorvoertuig terwyl onder die invloed van sterk drank, is tot 12 maande gevangenisstraf gevonnis of die betaal van 'n R8 000-boete, waarvan onderskeidelik ses maande en R5 000 opgeskort is vir vyf jaar.
Al drie hierdie sake is suksesvol ondersoek deur ao Marizaan du Plessis van die Da Gamaskop-polisie se speurafdeling.
Die bevelvoerder van die Da Gamaskop-polisie, kol Mark Hartzenberg het ao Du Plessis gelukgewens met haar sukses.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'