MOSSELBAAI NUUS - Die nypende tekort aan water, veral ook vir huishoudelike gebruik en as drinkwater, het by 'n plaaslike skool deel geword van 'n manier om leerders bewus te maak van hoe hulle 'n verskil kan maak.
Die graad 8A-klas van Curro Mosselbaai het verlede week inisiatief geneem en besluit om 5 liter-waterbottels te begin insamel.
Die leerders het hulle skoolmaats uitgedaag om gevulde waterbottels skool toe te bring in 'n poging om die waternood, veral op plase in die Mosselbaai-omgewing te verlig.
"Daar is in die klas gesels oor gemeenskapswerk en op hierdie manier het die idee ontstaan om water in te samel," berig 'n graad 8-ouer.
Leerders sal tot en met volgende week Woensdag, 11 September water insamel voor dit opgelaai en oorhandig sal word waar die nood die hoogste is.
Die gemeenskap is welkom om hierdie inisiatief te ondersteun en water af te laai by die Curro-kampus in Seemeeustraat, Heiderand. Curro Mosselbaai moedig ander skole in die omgewing aan om soortgelyke inisiatiewe te begin ten einde die waternood in die omgewing te verlig.
Curro Mosselbaai se graad 8's het besluit hulle kan nie handjies gevou staan terwyl die wêreld al hoe droër en mens en dier se waternood al hoe groter word nie. Foto: Cornelle Carstens
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'