MOSSELBAAI NUUS - 'n Polisiebeampte wat bekend was in die groter Mosselbaai, luitenant-kolonel Andrew Terblanche (53) se roudiens sal op Saterdag, 16 Mei by familie se huis gehou word.
Hoewel daar vanuit verskeie oorde die behoefte uitgespreek is om 'n gesamentlike roudiens vir Terblanche te hou, sal dit weens die huidige vlak 4-inperkingsregulasies nie moontlik wees nie.
Daarom sal slegs genooide roubeklaers, bestaande uit nabye familie en vriende van Terblanche, die roudiens kan bywoon.
Terblanche was die gebiedshoof van speurdienste in die Da Gamaskop-polisiesone.
Hy is op Saterdag, 9 Mei, onverwags oorlede en het vir meer as 35 jaar by die Suid-Afrikaanse Polisiediens gewerk.
'n Nabye vriend en kollega van Terblanche, kolonel Clive Kaptein, die administratiewe hoof van die Da Gamaskop-polisiesone se gebiedskantoor, sê Terblanche is vermoedelik weens natuurlike oorsake oorlede. Kaptein ken Terblanche al vir baie jare en het lank saam met hom gewerk. "Hy was die meeste van sy loopbaan by Da Gamaskop en het jare gelede daar aangesluit as sersant. "
Kaptein sê Terblance was 'n "skitterende" polisiebeampte. "Hy was altyd baie netjies en uiters profesioneel. Dit was regtig 'n plesier om saam met hom te werk. Hy het 'n rustige atmosfeer om hom gehad. Ons vind dit geweldig frustrerend dat ons nie 'n ordentlike begrafnis kan hou nie. Hy was by elke polisiestasie, vanaf Barrydale tot Mosselbaai bekend." Volgens Kaptein was Terblanche nie 'n sieklike mens nie, en is sy dood steeds vir almal 'n groot skok.
Terblanche los sy twee seuns, en sy vrou, Eva, ook bekend as Kay agter.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'