GROOT-BRAKRIVIER - Die Groot-Brakrivier-polisiestasie is vir ‘n tweede keer gesluit weens Covid-19-verwante voorvalle.
Mossel Bay Advertiser het betroubaar verneem dat minstens vier polisielede positief getoets is en dat daar op nog uitslae gewag word.
Polisiebeamptes sê hulle voel blootgestel en is bang om vir diens aan te meld. Beamptes wat in die aanklagkantoor werk, moet daagliks groot getalle mense hanteer en polisiebeamptes wat skofte werk het geen ander keuse as om in die gemeenskappe in te beweeg nie.
‘n Polisiebeampte het aan die Advertiser gesê dat baie inwoners hul bloot nie aan die regulasies steur nie en steeds nie gesigmaskers dra of hande ontsmet nie.
Nog ‘n klagte sluit in spazawinkels wat nie hul toonbanke saniteer of ontsmettingmiddels aan kliënte aanbied wat die winkels betree nie.
Op 15 Julie het die polisieminister Bheki Cele bevestig dat 7 021 Suid-Afrikaanse polisiebeamptes reeds positief getoets het vir Covid-19. Drie-en-vyftig polisiebeamptes is reeds dood aan Covid-19. Altesaam 4 949 polisiebeamptes is in kwarentyn terwyl 150 in hospitale opgeneem is.
“Die pandemie is nie oordeelkundig nie. Niemand is imuun nie. Dit val selfs diegene aan wat ons toevertrou om ons te beskerm.”
Dit is nie tans bekend wanneer die polisiestasie op Groot-Brakrivier weer vir die publiek sal heropen nie.
Die sektor telefoonnommer is 082 522 2807.
Nog 'n polisiestasie sluit
Mossel Bay Advertiser het verneem dat die Da Gamaskop-polisiestasie op Mosselbaai ook tydelik gesluit is weens Covid-19 verwante voorvalle. Dié polisiestasie is voorheen vir dieselfde rede tydelik gesluit.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'