RUBRIEK: Verlede keer het ek geskryf oor maniere hoe om tegnologie op ‘n positiewe wyse te gebruik in hierdie tye van afsondering. Hierdie keer wil ek skryf oor hoe mens op ‘n verantwoordelike wyse omgaan met webwerwe.
Natuurlik het vele Covid-19 webwerwe opgeskiet wat raad gee hoe om jouself en jou familie te beskerm, wat sanitasiemiddels en maskers verkoop, ensovoorts.
Maar wees gewaarsku, vele van hierdie webwerwe is besmet met rekenaarvirusse. Klik jy op ‘n aanhangsel of ‘n skakel word jou rekenaar heelwaarskynlik geinfekteer met kwaadwillige programmatuur wat groot skade kan aanbring aan jou rekenaar en die inligting daarop gestoor.
Verder, probeer jy hierdie sanitasiemiddels en maskers aanlyn koop is die kanse groot dat jou kredietkaart inligting in verkeerde hande gaan beland. Hierdie webwerwe wat so oornag opskiet misbruik die mense se vrees en angs en buit hul onsekerheid uit in tye soos hierdie.
Wees beslis baie meer op jul hoede vir aanlyn-visvang (phishing) in hierdie tye en doen eers jou navorsing omtrent die gepaardgaande maatskappy alvorens jy klik op enige skakel of iets aanlyn bestel.
Wat natuurlik tragies is, is dat webwerwe van organisasies soos die World Health Organization (WHO) en oganisasies wat navorsing doen om ‘n Covid-19 entstof te ontwikkel, ewe skielik die teiken is van vele kuberskelms se aanvalle.
Vele aanvalle is reeds op die WHO se webwerf gedoen. Meer as een hospital of toetslaboratorium se rekenaarstelsel is al suksesvol aangeval met die gevolg dat hierdie hospitale en toets sentrums vir tye nie kon hulp verskaf aan pasiente nie. Werklik tragies dat kuberaanvallers tot sulke uiterstes kan gaan.
Ten slotte, wees ekstra versigtig vir aanlyn-visvang in hierdie tye en moenie sommer enige aanhangsel oopmaak of op enige skakel klik nie.
Prof Rossouw von Solms is ‘n emeritus professor en lid van die Sentrum vir Navorsing in Inligting en Kubersekerheid aan die Nelson Mandela Universiteit.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'