MOSSELBAAI NUUS - Soos elke hond sy dag kry, kan elke vakansieganger sy pansy-skulp kry - dis nou as jy gelukkig genoeg is om vir Corrie Botes-Campbell op die strand raak te loop.
Corrie, 'n 79-jarige inwoner van Diasstrand, het 'n absolute bewondering en liefde vir dié skulpe. Dié liefde gaan ook hand aan hand met haar liefde vir stap.
Sedert haar aankoms in die Mosselbaai-omgewing in 2001, skat Corrie het sy al maklik by die 40 000km (sover moontlik strandlangs) gestap.
Die pansy-liefde kom egter al sedert die 1990's toe sy haar eerstes by Plettenbergbaai se Lookout Beach opgetel het.
Volgens die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Biodiversiteit (Wet 10 van 2004) is die pansy-skulp 'n beskermde spesie en daarom maak sy een ding sommer vroeg al duidelik: sy tel nét dié op wat al deur die son verbleik is. Dán het hierdie merkwaardige skulpe, oftewel see-egels (urchins) se lewens reeds tot 'n einde gekom.
Só lyk 'n pansy van voor en agter.
Die kombinasie van Corrie se pansy-passie en haar duisende kilometers langs die strand het natuurlik oor die jare gelei tot 'n pansy-versameling, wat menigte vakansiegangers én inwoners haar sal beny.
Maar, as jy nog altyd droom van een van jou eie, kan dit dalk net jou gelukkige dag wees as jy vir Corrie op die strand ontmoet.
Aangesien sy reeds 'n indrukwekkende versameling het, maak dit eintlik haar hart bly om haar vonds van die dag aan iemand te skenk. Uit haar paar duisend pansies, wat sy oor die jare al versamel het, sê sy sy het seker al 500 vir vakansiegangers weggegee.
'n Stuk porselein wat Corrie ook onlangs opgetel het met die woorde 'Park Hotel' daarop. Foto: Verskaf
En 'n vakánsieganger, kan sy al op 'n afstand uitken.
"Ek sien hulle, want jou ou stappers ken jy. Die ouens wat die blyste is oor dié wat jy weggee is die kindertjies. Daai kleintjie is in bewondering as jy daai pansy vir hulle gee, en dan is die ma en pa natuurlik net so in hulle skik," sê sy.
"Dis asof jy vir 'n vakansieganger 'n R100-noot present gee, want 80% van hulle kry nie 'n pansy nie."
In sommige gevalle is inwoners se beter helftes by die huis nét so dankbaar as die pansies weggegee word.
Corrie vertel van 'n kranige stapper van Bayview wat sy eenkeer raakgeloop het.
"Hy gee my 'n pansy, so groot soos 'n man se duim se nael, toe sê ek vir hom ek kan nie die pansy vat nie, want dit is syne. Hy sê toe, 'Weet jy, ek het so baie opgetel, my vrou het gesê as ek met nog een by die huis aankom smyt sy my by die huis uit mét die pansy!'"
Corrie hou daarvan om die sand só op die pansies te los.
Sy het geen tekort aan sulke ontmoetings nie en sê dis wonderlik om so te kan stap en mense te leer ken.
Daar is verskeie betekenisse gekoppel aan pansy-skulpe, maar Corrie se gunsteling is die Christelike een. Wanneer jy 'n pansy oopbreek, is daar vyf "duifies" binne-in, vertel sy.
"En duiwe is vrede. As jy een optel voel jy geseën - jy vind nie 'n pansy nie, hy vind jou."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’