MOSSELBAAI NUUS - Cornelia Liebenberg (49), 'n siggestremde atleet met minder as 1% sig, sal binnekort haar eerste Mosselbaai-Ironman 70.3 aandurf.
Liebenberg, 'n Kaapstad-inwoner, het reeds vier Ironman 70.3-kompetisies agter die blad, maar dit is vanjaar die eerste keer wat siggestremde atlete op Mosselbaai mag deelneem.
"En ek voel spesiaal, aangesien nie baie siggestremde atlete dit kan doen nie."
Die Ironman vind Sondag, 17 November, op Mosselbaai plaas.
Dié intense kompetisie bestaan uit, eerstens, 'n 1.9km swem vanaf Santos strand na De Bakke strand, dan 90.1km se fietsry en laastens 'n 21.1km-draf.
Cornel Botha, 'n bekende driekampatleet, afrigter en vriend van Liebenberg, het die Ironman-bestuur oorreed om haar en ander siggestremde atlete die kans te gee om mee te ding, en het gesê dié atlete is ondanks hul gestremdhede heeltemal bevoeg om mee te ding.
Liebenberg sê sy voel bevoorreg om deel te neem.
"Om 'n gids te kry om al drie items saam met my te doen, is nie altyd maklik nie; vir iemand om hul tyd af te staan om saam met my te oefen, is baie hartverwarmend," het sy vir die Mossel Bay Advertiser vertel.
"En ek voel spesiaal, aangesien nie baie siggestremde atlete dit kan doen nie," sê sy.
Haar gids hierdie jaar is Shane Williams, afrigter en atleet van Tri3tribe, 'n driekampoefenprogram.
Om vir 'n kompetisie soos die Ironman te oefen, is nie 'n maklike taak nie. Dit verg baie toewyding en 'n bepaalde roetine. Liebenberg sê sy oefen elke dag.
"Elke dag doen ons 'n item, soos swem een dag, fietsry en hardloop die tweede dag en so word dit vir die week herhaal."
Omdat sy met 'n gids sal meeding, moet hulle hul bewegings sinchroniseer met mekaar.
Die paar het lang tydperke van fietsry, hardloop en swem saam gedoen, sodat hulle gewoond aan mekaar se teenwoordigheid en bewegings kan raak.
"Ons moet mekaar verstaan en oor die weg kan kom. Vir vier vorige Ironmankompetisies het ek 'n ander gids gehad. Dit kan die verstand en emosies belas."
Liebenberg verduidelik dat sy nog altyd 'n aktiewe mens was. Sy het op skool en by die gimnasium geswem, maar sy sê sy is meer 'n langafstandatleet.
Voor hierdie Ironman, het sy aan die Comrades-ultramarathon en ook die Twee Oseane ultrawedloop deelgeneem.
"Nadat ek die Comrades van amper 86km voltooi het, het ek gedink wat my volgende uitdaging sou wees.
Cornel Botha en David Jones.
Dit is waar die driekamp-idee begin het," vertel sy. Sy sê sy het eers met die oopwater-swem gesukkel. Dit het haar ’n paar jaar geneem om dit reg te kry, maar nou kan sy dit met gemak doen.
Haar sig het weens 'n degeneratiewe oogkondisie oor die jare verswak.
Toe sy 'n student aan Stellenbosch Universiteit was, kon sy nog op haar eie fietsry en van een plek na 'n ander beweeg.
"My visie was toe nog in orde. Ek het dus klasse toe gery, geswem en gehardloop. In daardie stadium het ek gereeld daaraan gedink om driekamp te doen."
Op die vraag of ’n kompetisie soos die Ironman meer mense met gestremdhede moet of kan insluit, het Liebenberg geantwoord dat sy dink dit is vir ’n gestremde persoon om te besluit of hulle aan die Ironman wil deelneem.
"Ek verstaan die redes hoekom ons nie die eerste keer op Mosselbaai kon deelneem nie. Dus, afhangende van die vlak van gestremdheid wat iemand het, kan 'n keuse gemaak word," sê sy.
Liebenberg het in 2019 in Durban aan die Ironman deelgeneem, en weer in 2022, 2023 en 2024 in Port Elizabeth. Een van Liebenberg se vriende en medeatlete, David Jones, wat ook siggestremd is, neem ook aan Mosselbaai se Ironman deel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’