MOSSELBAAI NUUS - Bekende voormalige rugbyspeler, CJ Stander was op Woensdag, 14 Junie, die gasspreker tydens Mosselbaai Dissipelskap se jaarlikse sake-ete in die Mosselbaai-stadsaal.
Mosselbaai Dissipelskap is deel van Arbeidsbediening wat reeds 38 jaar lank in die groter Mosselbaai aktief is.
Die geleentheid is deur sowat 280 gaste bygewoon en die program is deur Chris Smit, wat reeds 35 jaar deel is van Arbeidsbediening, gelei.
Cornelia Haylett en Abrie van der Berg het as gasvroue opgetree met bekende spysenier en sakevrou, Melinda van Greunen van M&H Catering services wat 'n voortreflike driegang maaltyd aan die gaste voorgesit het.
Voorsitter van Arbeidsbediening, Blackie Swart, het al die sake-mense bedank vir hul jare se ondersteuning waarna voltydse geestelike werker, Pierre Lamprecht, die gasspreker, CJ Stander, aan die gaste voorgestel het.
Stander, 'n gebore Georgiet, het in 2010 vir die Blou Bulle uitgedraf en in 2012 na Munster verhuis waar hy sy rugbyloopbaan in Ierland voortgesit het. Hy het onder meer vir die Britse Leeus en Ierland rugby gespeel totdat hy in 2021 dié loopbaan vaarwel toegeroep het en hom weer op George kom vestig het.
Stander het die gaste by die sake-ete met sy ervarings op en van die speelveld trakteer en gaste het sy boodskap van hoop en verhoudings met jou familie, baie inseggewend gevind.
Ken Larken het die gaste met sy sang en musiek vermaak, terwyl Ben en Izolde Becker, wat ook deel is van Arbeidsbediening, 'n geleentheid gekry het om ook 'n bydrae met hulle musiek te lewer.
Die program is afgesluit met ds Pieter Cronjé, wat ook deel is van Arbeidsbediening, wat 'n getuienis gelewer het oor hoe hy 'n bekende sakeman van Mosselbaai, ongeveer drie jaar gelede na die Here gelei het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’