MOSSELBAAI NUUS - 'n Mosselbaaier se Kohaku vis is as die algehele kampioen by die 2024 Suid-Kaap Koiskou aangewys.
Chappie Gertenbach (78) het verlede naweek sy visse saam met ander koivis-entoesiaste by die kompetisie in George geskou. Die beoordeelaars bestaan uit Japanese koivis-kenners en daar is verskillende afdelings waaraan deelnemers kon deelneem.
Koi-eienaars van sover as Oos-Londen en Kaapstad het die kompetisie bygewoon. Gertenbach se kampioenvis is 'n rooi-en-wit vis en sy is 63cm lank.
Sy is reeds sewe jaar oud en het 'n waarde van tussen R30 000 en R45 000. Nóg 'n vis van hom, 'n swart-en-wit Koi het ook 'n prys by die skou gewen.
Die pryse sluit in ingevoerde viskos van Japan asook 'n groot trofee.
Die visse word beoordeel volgens hul grootte en hul kleur. Gertenbach vervoer sy visse in 'n tenk agterop sy bakkie.
Die kampioen van alle visse swem in Mosselbaai se waters.
Hy het reeds in 1995 met koivisse begin teel en van die visse waarmee hy destyds begin het, is steeds by hom. "My oudste vis is omtrent 40 jaar oud," sê Gertenbach.
Naas sy liefde vir visse vlieg hy ook graag wedvlugduiwe en hy het ook steeds perde. Gertenbach was bekend vir sy Arabiere waarmee hy geteel het. "
Ek geniet my visse vreeslik. 'n Mens moet net na hulle kyk dan word hulle baie oud."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’