Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Die diereliefdadigheidsorganisasie, Caws 4 Paws het Dinsdag, 29 November 'n uitreik in die Wolwedans-gemeenskap digby Groot-Brakrivier gehou waartydens talle honde hulp ontvang het.
Caws 4 Paws is 'n nie-winsgewende organisasie wat in 2013 begin is en wat reeds duisende honde gesteriliseer het om sodoende die verwaarlosing van die diere teen te werk.
Volgens Barry Greyvenstein, voorsitter van Caws 4 Paws, is daar 'n groot nood in die wêreld vir diereliefdadigheid. "Ons hoofdoel is om soveel diere moontlik te steriliseer, maar kan dit net doen as die diere-eienaars toestemming gee. Ons verskaf 'n gratis diens aan gemeenskappe wat dit nie kan bekostig om vir hul diere te sorg nie.
"Ons het vrywilligers wat die diere in 'n entstof dip, ons doen ontwurming en help diere wat seergekry het en gee vir hulle kos. Met vandag se uitreik gee ons ook 'n Kersgeskenk vir die diere wat die eienaars kan huis toe vat."
Greyvenstein vra dat die publiek hulle asseblief moet ondersteun deur 'n maandelikse geldelike bydrae te lewer of as iemand nie naasbestaandes het nie, geld te bemaak aan die organisasie. Die geld word belê en die rente word gebruik om vir die diere kos te koop en vir hul mediese sorg te betaal.
Hy vervolg: "Tydens Covid het ons R100 000 in ses maande spandeer om families te help wat nie vir hul diere kon kos koop nie. Ons is ook voortdurend besig om die diere-eienaars op te voed oor die beste wyse om hul diere te versorg."
Vir meer inligting, kontak Barry Greyvenstein by 078 256 2055.
VIDEO - Caws 4 Paws het onlangs 'n uitreik-aksie in Wolwedans gehou.
VIDEO - Barry Greyvenstein van Caws for Paws, Groot-Brakrivier.
Kobus van der Merwe gee een van die honde kos in die Wolwedans gemeenskap.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'