Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Die voorsitter van die Wes-Kaapse parlementêre komitee vir finansies, LUR Dennis Joseph was beïndruk met die werk wat by die Garden Route Casino gedoen word om gemeenskappe in die groter Mosselbaai op te hef.
"Ons was veral beïndruk met die voorlegging van Ridgeview Primêre Skool se mnr Prinsloo, wat vertel het dat die skool na 40 jaar nou oor 'n skoolsaal en laboratoriums beskik danksy 'n borgskap van die Garden Route Casino Community Trust.
"Ook die buurtwagte in Mosselbaai word deur die trust ondersteun met toerusting en só help die Casino om die gemeenskappe te beveilig. Selfs SAPREC kan spog met 'n dierekliniek danksy die tussenkoms van die Casino."
LUR Joseph het ook die gemeenskapstrust geloof vir hul belegging in die oud-springbokrugby sewesspeler, Leslie Jackson, wat tans deur sy klinieke regdeur die streek die jongklomp aan die sport bekendstel en afrig.
Vrese
Vrese dat die Garden Route Casino dalk sy deure sal moet sluit ter wille van 'n groter, nuwe casino in Somerset-Wes, is ongegrond, aldus LUR Joseph. Hy sê die 10-jaar ooreenkoms vir casinos in die Wes-Kaap het wel verstryk, en Stad Kaapstad het wel 'n aansoek om hersonering vir 'n nuwe casino ontvang, maar geen versoeke vir die hervestiging van 'n bestaande casino is by die provinsiale wetgewer ontvang nie.
Kyk 'n video hieronder.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'