MOSSELBAAI NUUS - Die Midbrak-canastaklub het weer vanjaar aan die Mosselbaai Sport- en Rekreasiefees deelgeneem.
Die spel het op Woensdag, 26 September by Seeplaas in die Groot Brak-area plaasgevind. Die Midbrak-naam is gekies omdat dit vroue van Groot-Brakrivier tot Klein-Brakrivier insluit.
Die klub is gestig deur Suzette Moolman toe sy en haar eggenoot, professor Frans Moolman in 1998 na Hersham in Groot-Brakrivier verhuis het na hulle aftrede. Hulle het gou vriende gemaak in die omgewing en die manne het begin rolbal speel. Die vroue was so te sê, "rolbalweduwees", en Suzette het toe die canastaklub gestig waar die vroue van huis tot huis gespeel het.
Die getal vroue was gou te veel om aan huis te speel en het hulle toe elke Woensdag by De Dekke op Groot-Brakrivier begin speel.
Gedurende die afgelope 20 jaar was die getal vroue nooit minder as 20 nie en is tans 26, waarvan die ouderdom wissel tussen 60 en 80 jaar.
Uit die Midbrak-canastaklub het daar reeds twee ander klubs ontstaan. Een in Mosselbaai en nog een in George. Die Midbrak-canastaklub neem vanjaar reeds vir die derde keer, en die Mosselbaai-klub vir die tweede keer, deel aan die sportfees.
Lede van die Midbrak-canastaklub. Foto: Anton Gericke
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'