Gallery
MOSSELBAAI NUUS - Baasbaksters in Mosselbaai het die geleentheid gehad om weer vanjaar aan die Cake-Off deel te neem waar enige persoon kon inskryf en ‘n koek en twaalf kolwyntjies gebak moes word vir beoordeling.
Die tema vir 2017 se inskrywings was “Partytjie” en die ses finaliste het omtrent kleurvolle skeppings voorgesit.
Volgens die reëls kon die baksters die koeke en kolwyntjies tuis bak, maar die kolwyntjies moes by die byeenkoms voor die gaste versier word.
Tuis moes daar die oggend van die funksie, stap vir stap met foto's gewys word, hoe die koek gebak en versier word.
Terwyl die finaliste hul kolwyntjies versier het, het gasspreker Lizel van Niekerk-Conradie met haar praatjie oor die uniekheid van mens en veral vrouwees, die sowat 120 vrouens laat nadink oor hul eie plek wat volgestaan moet word en die rol wat hulle kan en moet speel.
Lizel is ook die plaaslike ambassadeur van die splinternuwe tydskrif BLOSS wat onlangs op die rak verskyn het.
Die tydskrif bied ‘n mediaplatform aan elke vrou alhoewel die beoogde teikenmark die 20- tot 35-jariges is omdat die ouderdomsgroep soveel belangrike lewensbesluite moet neem.
Die vrolike kolwyntjies van finalis Natalie Anderson was nie net mooi om na te kyk nie maar ook heerlik om te eet. Foto: Tersia Marais
Na ‘n paar vrolike en energieke danspassies van die Steps Academy-dansskool van Hartenbos, het die gewilde karakter Koek 007 (Cornelle Carstens) die vrouens laat skater met haar vertellings oor die wel en wee van die getroude lewe as mevrou Koekemoer.
Die beoordeelaars het intussen die finaliste se werk beoordeel en uiteindelik was dit tyd om die wenner aan te kondig.
Ena Jacobs, bekende koskenner en ook voorsitter van die Suid-Kaap Fynproewersgilde het die finaliste geloof vir hulle besondere inskrywings en fyn werk en genoem dat dit baie moeilik was om ‘n wenner aan te wys.
Die standaard van die inskrywings was baie hoog maar uiteindelik het Hillary Otto met haar inskrywing, Garden Party met die louere weggestap.
Cake-Off is ‘n liefdadigheidsgeleentheid wat tweejaarlikse aangebied word. Vanjaar se fondse gaan aan Sonskynvallei-kleuterskool se graad RR- en R-klasse se voedingskema en die mooi bedrag van R7000 is ingesamel en reeds oorbetaal.
Daar is ook deur die organiseerder, Trudie Stander aangekondig dat die Cake-Off voortaan jaarlikse gehou gaan word en sy nooi nou reeds alle baksters uit om te begin oefen vir die 2018-kompetisie.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'