MOSSELBAAI NUUS - Dat gemeenskapsbetrokkenheid deur middel van aktiewe deelname in straatkomitees en buurtwagte 'n merkbare effek op misdaadbekamping het en ook die polisie se hand sterk wat noodsaaklike mannekrag betref, is onteenseglik.
Op Woensdag, 29 Mei omstreeks 14:30 het 'n man vanaf Hartenbos op pad huis toe van die werk af in die rigting van Sonskynvallei gestap toe drie onbekende mans hom nader en vra hoe laat dit is.
Hy het sy selfoon uit sy sak gehaal om die tyd te lees, toe die mans hom met 'n mes dreig en die selfoon buit, waarna hulle op die vlug geslaan het.
'n Persoon in 'n bakkie het by die misdaadtoneel verbygery waarop hy die slagoffer gehelp het om die verdagtes agterna te sit. Die verdagtes het in die rigting van Hartenbos gevlug. Een van die verdagtes is opgemerk in die omgewing van die Shell Truckport waar hy tussen bosse geskuil het. Hy is deur die slagoffer gekonfronteer. 'n Struweling het ontstaan waartydens die verdagte die man aan sy hand gebyt en verder gevlug het.
Lede van die gemeenskap was behulpsaam om die verdagte susksesvol aan te keer en aan die polisie te oorhandig.
'n Saak van roof en aanranding met die opset of ernstig te beseer word deur die Da Gamaskop-polisie ondersoek.
Vrou vermis
'n Bejaarde vrou wat in die vroegoggendure van 30 Mei uit haar woonstel in Hartenbos vermis is, is danksy die buurtwag se insette ongedeerd gevind. Die vrou se dogter wat elders woon, het 'n buurvrou laat weet dat sy haar ma nie in die hande kry nie. By nadere ondersoek, is die vrou se woonstel se deure oop gevind, met onder meer haar selfoon wat op 'n tafel agtergelaat is.
Die buurtwag is ontplooi en het die vrou omstreeks 02:00 ongedeerd op 'n bankie naby die strand gevind. Dit het geblyk asof sy vanweë medikasie gedisoriënteerd was.
"Die polisie het groot waardering vir die bydrae wat buurtwagte en straatkomitees lewer, veral wat die ekstra mannekrag betref," sê kapt Wollie Fourie, kommuikasiebeampte van die Da Gamaskop-polisie.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'