MOSSELBAAI NUUS - Nie net het twee op en wakker buurtwaglede van Hartenbos 'n vermeende dief vasgetrek nie, maar ook op die gesteelde goedere beslag gelê nog voor die slagoffer van 'n inbraak by haar huis bewus was.
Op Dinsdag, 5 Maart het twee buurtwaglede op patrollie 'n verdagte oor 'n muur sien klim in die omgewing van Spioenkop- en Ysterspruitlaan.
Dit het geblyk asof die verdagte man iets onder sy trui wegsteek. Die buurtwaglede het die man tot by 'n bushalte agtervolg en toe hulle hom konfronteer, het hy in die rigting van die Hartenbos-netbalbane laat spaander waar hulle hom ingehaal en in hegtenis geneem het.
Die verdagte het 'n gesteelde skootrekenaar in sy besit gehad wat glo uit 'n woning in Magersfonteinlaan gesteel is.
By nadere ondersoek, is vasgestel dat die regmatige eienaar van die skootrekenaar wel op die buurtwag se WhatsApp-groep is en daar is met haar kontak gemaak.
Die vrou, wat nie ten tye van die voorval tuis was nie, was op besoek aan haar dogter in die Noord-Kaap en was nie eens bewus daarvan dat daar by haar woning ingebreek is nie.
Volgens inligting blyk dit asof die 25-jarige verdagte wat in hegtenis geneem is, reeds vorige veroordelings het.
"Die vinnige optrede om misdaad te bekamp dui op die positiewe rol wat 'n aktiewe buurtwag in 'n woongebied speel," sê kapt Wollie Fourie, kommunikasiebeampte van die Da Gamaskop-polisiestasie.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'