MOSSELBAAI NUUS - Vandeesweek het Danabaai se buurtwag weer eens gewys dat hulle almal in dié omgewing dien, ongeag die nood en ongeag die uur.
Omstreeks 22:00 op Maandagaand het die buurtwag verneem van 'n Kaapse grysbokkie wat in Floraweg raakgery en beseer is.
Die persoon wat vir die dier se lyding verantwoordelik was, het nie eens die goeie maniere gehad om te stop nie.
Sonder om twee keer te dink het die voorsitter van die buurtwag, Otto Ploog, bygestaan deur Marelize Kapp, Neville Erasmus en sy dogter tot die bokkie se redding gekom.
Die diertjie is opgelaai en na dr Frans de Graaff se dierehospitaal in Hartenbosheuwels gehaas.
Dinsdagoggend is verneem dat dr De Graaff die bokkie geopereer en sy lewe gered het.
Benewens 'n stywe gewrig, word verwag dat die bokkie volkome sal herstel.
Danabaaiers is passievol oor die paar wilde diere wat nog in hierdie bewarea voorkom.
Die bokkie moes onder meer geopereer word sodat sy lewe gered kon word.
Hulle doen 'n ernstige beroep op inwoners om te alle tye uiters versigtig te bestuur.
Nie net 'n paar bokkies nie, maar skilpaaie en veral wilde voëls is gereeld op die padoppervlak en kan maklik raakgery word as nie op hulle ag geslaan word nie.
Een van die opsigtelike beserings wat die jong bokkie opgedoen het toe 'n motoris dit raakgery en boonop weggery het sonder om te probeer om die bok se lewe te red.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'