MOSSELBAAI NUUS - Danabaai-inwoners word uitgenooi na 'n vergadering van die Danabaai-buurtwag op 20 Februarie om 18:30 in die Danabaai-gemeenskapsaal.
Die vergadering word aangebied in samewerking met die KwaNonqaba-polisie en bied geleentheid vir vrae.
Inwoners kan die geleentheid gebruik om meer oor die werksaamhede van die buurtwag te wete te kom en om met die polisie te skakel oor misdaadtendense in die omgewing.
By twee geleenthede die afgelope naweek het die Danabaai-buurtwag mans wat met messe gewapen was, uit die woonbuurt laat verwyder.
Saterdag
Volgens die voorsitter van die Danabaai-buurtwag, Otto Ploog, was lede van die buurtwag beide Saterdag en Sondag ontplooi om gewapende persone in die buurt op te spoor en om die KwaNonqaba-polisie te betrek om die persone te arresteer.
Tydens die eerste voorval op Saterdag, 9 Februarie om 16:22 is die buurtwag genader oor 'n man wat in Floraweg 'n oorlas van hom gemaak het by 'n woonhuis in Floraweg. Toe die inwoners laat blyk dat hulle hom nie van kos of geld gaan voorsien nie, het die man sy hemp opgelig om aan die inwoners te wys dat hy met 'n mes gewapen is. Die inwoners het by die vulstasie aangedoen, die buurtwag is gekontak en vyf reaksielede het op die oproep reageer.
"Die KwaNonqaba-polisie is onmiddellik ontbied en die buurtwaglede het die verdagte persoon in die bosse agter die elektriese substasie opgespoor. Hy is aan lede van die KwaNonqaba-polisie oorhandig wat hom uit die area verwyder het.
Kapmes
Sondag is weer eens op die buurtwag staatgemaak om 'n man wat oop en bloot met 'n kapmes (panga) op Floraweg geloop het, te reageer. Vyf inwoners het die buurtwag bedag gemaak op die persoon. Toe dié man die buurtwaglede sien, het hy ook in die bosse ingehardloop. Lede van die buurtwag asook personeel van MSec het die man ná 'n soektog in die bosse agter die watertoring opgespoor. Ook hierdie persoon is aan lede van die KwaNonqaba-polisie oorgegee nadat die buurtwag hulle betrek het.
Ploog sê die buurtwag is baie dankbaar vir die hulp van die sekuriteitspersoneel wat hulle bygestaan het in hierdie geval.
Vir navrae oor die Danabaai-buurtwag, kontak 079 414 0481.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'