MOSSELBAAI NUUS - Dit woel op Danabaai en steun vir die plaaslike buurtwag, wat baie bedrywig in die woonbuurt is, groei bestendig.
Op Woensdagaand, 20 Februarie is 'n openbare vergadering deur die buurtwag baie goed bygewoon en het sedertdien 'n hele aantal nuwe lede by die buurtwag aangesluit, berig die voorsitter, Otto Ploog.
Die openbare vergadering is onder meer toegespreek deur 'n bestuurslid van die KwaNonqaba-polisie, kapt Cobus Wolmerans wat misdaadtendense bespreek het en waardevolle wenke gedeel het om persoonlike veiligheid op te skerp.
Die inwoners is gevra om veral behulpsaam te wees om insidente van diefstal uit motorvoertuie hok te slaan deur te verseker dat alle moontlike waardevolle items uit geparkeerde motors verwyder word, en om motors waar moontlik binne erwe en agter geslote hekke, verkieslik motorhuise, te parkeer.
'n Inwoner, Marius Rheeder, het sy inisiatief vir die gebruik van fluitjies om bure en ander inwoners van 'n voorval van misdaad of ander probleme in te lig, bekend gestel. Die voorstel het groot aanhang geniet en verdere vrae daaroor kan by die buurtwag (079 414 0481) bekom word.
'n Regskenner verbonde aan die Da Gamaskop-polisie, ao Van Dyk het inwoners se vrae oor die gebruik van wapens vir selfverdediging baie deeglik bespreek en gevra dat Danabaaiers hulself van die inhoud van die Strafproseswet (Wet 79 of 1978) moet vergewis.
Saterdagoggend het Danabaaiers deeglik kennis geneem van die erns waarmee misdadigheid in die buurt beveg word toe buurtwaglede, bygestaan deur sekuriteitspersoneel van MSec, 'n stalletjie by die toegang na die woonbuurt beman en die gemeenskap geleentheid gegee het om hul vrae en vrese te kom bespreek.
Ploog herinner inwoners daaraan dat 'n bankrekening vir die Danabaai-buurtwag geopen is en dat bydraes, hoe gering ookal, baie waardevol is en gebruik word om onder meer die brandstof vir die patrollies te befonds. Hy doen 'n beroep op inwoners om die buurtwag te ondersteun.
In November 2018 was Steven Fouch Danabaai-buurtwag se patrolleerder van die maand. In Desember het Steven en Donald Kroon dié kroon gedra, terwyl Steven weer in Januarie met die louere weggeloop het. Danabaai-buurtwagvoorsitter Otto Ploog (links) wens die patrolleerders met hul prestasie geluk.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'