MOSSELBAAI NUUS - Burgemeester Dirk Kotzé, lede van sy burgemeesterskomitee, die munisipale bestuurder Colin Puren en senior personeel het tydens hul onlangse gebruiklike Dinsdagbesoeke by onder meer Groot-Brakrivier aangedoen.
Op Dinsdae bring raadsheer Kotzé besoeke aan gemeenskappe.
Dan ontmoet hy persoonlik met gemeenskappe om diensleweringskwessies te bespreek.
Gerekende gemeenskapsleiers soos die landbouer John Robertson asook Kobus Neethling en Louis Cook het insigte gedeel en voorstelle gemaak oor die ontginning en beskerming van bestaande waterbronne wat groter watersekerheid aan Mosselbaai kan verseker.
Die afvaardiging het onder meer besoek gebring aan die Tweelingdamme bo Groot-Brakrivier en het die Searle-sloot in oënskou geneem. Binnekort sal die burgemeester ook besoek aflê by die Friemersheimdam en Klipheuweldam en omstreke.
Wyksraadslid Annatjie Janse van Rensburg in gesprek met die skoolhoof van Vorentoe Primêr op Groot-Brakrivier, Schalk Theron, burgemeester Kotzé asook die voorsitter van Infrastruktuurdienste, raadslid Anton Dellemijn en die munisipale bestuurder, Colin Puren.
Verdere besoeke is ook gebring aan die sportfasiliteite van Laerskool Vorentoe wat hierdie naweek 'n baie groot sportsaamtrek op Groot-Brakrivier aanbied.
Hier het die burgemeester en wyksraadslid Annatjie Janse van Rensburg met die skoolhoof, Schalk Theron ontmoet en gedagtes uitgeruil oor hoe meer effektiewe gebruik van die sportgronde bewerkstellig kan word.
Direkteur Dick Naidoo, verantwoordelik vir infrastruktuurdienste asook die raad se portfoliovoorsitter van infrastruktuurdienste, raadslid Anton Dellemijn het kennis geneem van verskeie voorstelle vir implementering.
Gemeenskapsveiligheid het voorrang geniet tydens besoeke aan spesifieke areas in beide Groot- en Klein-Brakrivier.
Die kwessie van heemloses, rommelstorting en onwettige smousaktiwiteite is ondersoek en daar is onder meer gelet op die ideale ligging vir kameras wat wetstoepassing sal ondersteun.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'