Mosselbaai se munisipale raad sal op hul vergadering van 24 April oor die hernuwing van die kontrak besin.
Nog minstens drie jaar
"Dit is op aanbe-veling van Mosselbaai Besigheidskamer dat die huidige drie-jaar kontrak met die organiseerders van die Buffalo Rally gesluit is en die Besigheidskamer ondersteun die verlenging van die kontrak, siende dat die sakesektor die Rally in Mosselbaai wil behou. Die organisering verloop jaarliks seepglad, aangesien reëlings betyds geskied met behoorlike beplanning," berig mnr Johan van Rensburg van die Mosselbaai Besigheidskamer.
Op die Mossel Bay Advertiser se vraag hoe die voorgenome privatisering van die woonwaparke die hernuwing van die kontrak mag raak, het die munisipale woordvoerder, mnr Harry Hill, berig, "Die privatisering sal waarskynlik onderhewig aan die handhawing van die kontrak met die Buff gemaak word."
Afwagting
Die afgelope naweek het die gebrul van meer as 5000 motorfietse nuwe lewe in Mosselbaai geblaas. Inwoners het vroeg op Saterdag-oggend reeds langs Marshstraat en Louis Fourieweg plek ingeneem in afwagting op die jaarlikse massarit, waaraan motorfietse in alle vorme en fa-brikate vir 'n skouspel gesorg het.
Oud en jonk, groot en klein, het vanaf Santos woonwapark, om die Punt en deur KwaNonqaba gery, gelei deur die Mosselbaai verkeers-
dienste en aangevoer deur lede van die Nomads Motorfietsklub.
Volgens die organiseerders het 7.5% meer motorfietsryers as in 2013 die 'Buff', soos die Buffalo Rally in die omgaan bekend staan, bygewoon.
Die oudste vroulike inwoner, Dee Coleman (71), het van Pietermaritzburg gekom, maar het 'n Kaapse draai gemaak om uiteindelik 2 700km af te lê voor sy haar bestemming op Mosselbaai bereik het. Die oudste manlike Buffer was Johny Strydom van die Cape Town Motorcycle Club.
Die persoon wat die verste oorland gereis het, Bugs da Silva, het vanaf Kitwe in Zambië gekom, terwyl verskeie Britte ook hul pad Mosselbaai toe gevind het.
Volgens Luderick Jacoby, voorsitter van die Nomads, het die organiseerder ook aan vyf bittereinders, wat reeds 30 Buffalo Rallies agter die rug het, toekennings gemaak en sal hulle voortaan alle Buffs gratis mag bywoon.
Liefdadigheid
Weinig mense besef presies watter enorme organisasie die Buffalo Rally van die organiseerders verg. Benewens die ge-reelde vergaderings met wetstoepassers en die munisipaliteit om die reëlings te laat vlot, voorsien die Nomads Motorfietsklub alle skoonmaakdienste op die feesterrein, ingesluit skoonma-kers, swart sakke, vuilgoedhouers, selfs die toiletpapier.
Hulle gebruik uit-sluitlik plaaslike arbeid as skoonmakers en sekuriteitspersoneel. Hulle voorsien ook 'n heeltydse ambulansdiens uitsluitlik vir die kampeerterrein.
"Dit kos die Nomads sowat R500 000 om die Buffalo Rally te laat realiseer. Daarenteen word 100% van die opbrengs vir liefdadigheid, ook hier op Mosselbaai, aangewend," het Luderick aan die Mossel Bay Advertiser gesê.
Die klub lewer ook jaarliks 'n baie ruim bydrae aan die Burgemeestersfonds.
Hierbenewens baat die plaaslike Tafelronde en NSRI ruim by opbrengs uit siwe biertente, en befonds daardeur hul eie projekte. Die Mossel Bay Advertiser se gemeenskapsuitreikaksie, die Oliver Twist projek, het gebaat by T-hempies van vorige jare se byeenkomste wat die organiseerders geskenk het. Hierdie hempies sal gepas versprei word.
Vanjaar het die Nomads se chalet by Santos soos 'n wafferse beheersentrum gelyk met diensroosters teen die mure, rekenaars wat oral opgestel was en voorraad wat opgestapel gestaan het.
In die Santos woonwapark het tentjies ingeryg gestaan en talle besoekers kon nie uitgepraat raak oor die ideale ligging nie. Selfs Mosselbaaiers het vir die naweek na Santos verhuis.
Besighede baat
Mosselbaai se Uitvoerende Burgemeester, Raadsdame Marie Ferreira, het in 'n verklaring gesê die Buffalo Rally is 'n welkome ekonomiese inspuiting vir die dorp.
"Die munisipaliteit baat direk, aangesien die organiseerders die woonwaparke huur wat ander-sinds ongebruik sou wees. Daarbene-
wens baat Mosselbaai se besighede by die 5 000 ekstra kliënte.
"Die jaarlikse byeenkoms bemark Mosselbaai en talle motorfietsentoesiaste bring hul families vir 'n vakansie," berig mev Ferreira.
"Die Buff is 'n totale aanwins vir toerisme - groot getalle Buff-lede slaap nie in die tentedorp nie, maar maak gebruik van hotelle, gastehuise en ander kampeergeriewe. Die meeste lede van Mosselbaai Gastehuis Gilde het hierby gebaat en talle was, insluitend ons, volbespreek met gereelde Buff-gangers.
"Die Buff bring 'n verdere voordeel dat nie net Mosselbaai dorp voordeel trek nie, maar ook die buitewyke soos Groot-Brakrivier, Klein-Brakrivier, Boggomsbaai, restaurante en koffiewinkels was druk besoek. Dit is nie net die hoofstroom toerisme organisasies wat voordeel uit die Buff trek nie, maar ook die oorgrote getal besighede in die dorp," berig mnr Louis Cook van die Mosselbaai Gastehuis Gilde.
Besigheidskamer
"Die Mosselbaai besighede kry jaarliks 'n welkome finansiële inspuiting uit die Buffalo Rally. Die munisipaliteit ontvang 'n substansiële bedrag vir verskaffing van die fasiliteite, terwyl welsynsorganisasies by die Rally baat en alle verwante besighede word goed ondersteun.
"Die besoekers kan nie al hul benodigdhede saambring nie en is genoodsaak om die Mosselbaai besighede te ondersteun," het mnr Johan van Rensburg van die Mosselbaai Besigheidskamer gesê.
"Wetstoepassers, Soos die verkeers-polisie en SA Polisie, weet nou presies wat om te doen om die Buffalo Rally suksesvol aan te bied.
"Die fasiliteite en infrastruktuur van Mosselbaai en omgewing bied die ideale bestemming vir alle avontuursoekers en ons sien uit daarna dat die wedrengangers ons dorp weer sal besoek," aldus mnr Van Rensburg.

Die talle motorfietsentoesiaste wat Mosselbaai vir die Buffalo Rally besoek het, het plaaslike besighede baie goed ondersteun. Foto's: Tersia Marais
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'