Daar word vermoed dat die gemeenskap se oproerigheid uit 'n dwelmverwante arrestasie vroeër die aand gevolg het.
Volgens kapt Bernadine Steyn, 'n woordvoerder van die SAPD se Suidkaapse-mediasentrum, is 'n 37-jarige vrou omstreeks 21:45 by 'n woning in Sonskynvallei gearresteer vir die besit van dagga, nadat 'n deursoekingslasbrief by 'n woning in die uitbreiding uitgevoer is.
Die SAPD het op 1.76kg dagga in 'n karavaan by die woning, asook drie daggaplante wat agter die huis gevind is, beslag gelê.
Die vrou het op Dinsdag 18 Februarie in die Mosselbaaise Landdroshof verskyn.
Luidens amptelike kommentaar, het 'n groep van ongeveer 90 mense omstreeks 22:00 op dié pad bymekaargekom. Die SAPD en nooddienste is na die toneel ontbied.
Na bewering, is klippe na verbygaande voertuie geslinger en is die verkeer ontwrig deur buitebande wat op die R328 aan die brand gesteek is. 'n SAPD-voertuig en ook 'n brandweerwa is tydens die voorval beskadig.
In 'n poging om die groep uiteen te laat gaan, is gebruik gemaak van skokgranate en rubberpatrone.
Volgens kapt Steyn, word 'n saak van openbare geweld en opsetlike saakbeskadiging ondersoek na aanleiding van die gebeure. Geen arrestasies is nog in die verband gemaak nie.
Gemeenskap ongelukkig
Alhoewel slegs die brandmerke op die R328 nog sigbare getuienis lewer van die nagtelike oproer, is die gemoedere in Sonskynvallei nog onstuimig na die skermutseling.
Pastoor Martinus Diedericks, wat dikwels as bemiddelaar in die gemeenskap optree, sê dat almal broos voel na die gebeure. As segsman vir sy gemeenskap, meen hy dat die hantering van die oproer plek-plek handuit geruk het.
"Daar was nog kinders op straat toe die optrede plaasgevind het. My eie 17-jarige grootmaakseun het sleg deurgeloop."
Lorraine Jansen vertel 'n soorgelyke storie oor haar seun en sy vriende wat besoek het uit Klein-Brakrivier, wat hulle na bewering onskuldig in die moeilikheid vasgeloop het.
Magda Smith beken dat dit vir haar soos 'n oorlogsone gevoel het. "Ons ken nie sulke goed in Sonskynvallei nie," meen sy as 'n ou inwoner van die uitbreiding.
Verskeie lede van die gemeenskap is vir 'n tydperk aangehou by die SAPD Da Gamaskop, maar is weer huis toe gestuur.
Pastoor Diedericks het as tussenganger opgetree, aangesien sy 17-jarige seun ook onder hulle was.
"Die personeel van die bepaalde stasie het ons baie hoflik hanteer en was baie behulpsaam. Van ons mense in aanhouding was beseer en hulle het toegesien dat hulle eers by die hospitaal kom, voordat hulle ons huis toe gebring het," het hy aan die Mossel Bay Advertiser gesê.
'n Navraag rakende die aangeleentheid is gerig aan die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat (OPOD), maar kommentaar was teen druktyd nog nie beskikbaar nie.
Brandwag loop ook deur
Op dieselfde aand van Saterdag 15 Februarie, het die SAPD 'n roetine stop-en-deursoek optrede gehou in Brandwag.
Tydens 'n optrede teen 'n inwoner van Brandwag, het ander lede van die gemeenskap na bewering by 'n geskil betrokke geraak en oproerigheid het ontstaan.
SAPD-lede en voertuie is onder klippe gesteek. Voertuie is beskadig en drie mans is in verband met die oproer gearresteer op klagtes van crimen injuria, verset teen arrestasie, asook verhindering in die uitvoering van 'n polisiebeampte se pligte.
Tydens die optrede, het 'n volwasse vrou vanuit die skare na bewering 'n polisiebeampte met 'n gebreekte bottel in die nek, arm en pols gesteek.
Sy het egter na die aanval tussen die mense verdwyn en is eers die volgende dag, Sondag, 16 Februarie gearresteer vir crimen injuria en aanranding met die doel om ernstig te beseer.
Die vrou het vandeesweek in die Mosselbaai Landdroshof verskyn.
Brigadier paai
Brigadier Gerhard Jantjies, bevelvoerder van die Da Gamaskop-sone, meen in sy kommentaar oor die aangeleenthede dat daar deurgaans 'n gesonde vennootskap tussen die SAPD en die gemeenskap moet wees.
"Ek het begrip daarvoor dat die gemeenskap ongelukkig voel oor die optrede van die spesiale eenhede tydens polisie-optredes die naweek. Die SAPD moet toegelaat word om sy werk, onder alle omstandighede, effektief te doen en hiervoor is samewerking met die gemeenskap uiters nodig. Daarom sal ons graag met die gemeenskap gesels oor hulle griewe tydens openbare vergaderings," het Brig Jantjies vandeesweek aan die Mossel Bay Advertiser gesê.
Kommunikasiebeampte van die SAPD Da Gamaskop, kapt Wollie Fourie het bevestig dat daar op Dinsdag 25 Februarie om 19:15 'n Imbizo gehou sal word met die gemeenskap van Brandwag in die Brandwag-gemeenskapsaal.
Enige navrae oor hierdie openbare vergaderings, skakel 044 606 7802.

'n Inwoner van Sonskynvallei wat deurgeloop het onder van die rubberkoeëls wat tydens 'n polisieoptrede op Saterdag, 15 Februarie afgevuur is. Foto: Verskaf
ARTIKEL: CORNELLE CARSTENS, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'