MOSSELBAAI NUUS - Die 40-jarige man wat in Januarie verlede jaar ure lank vanuit 'n plaashuis in die Brandwag-omgewing op nooddienspersoneel losgebrand het, het vandeesweek skuldig gepleit op 24 aanklagte teen hom.
Leroi du Toit het op vroegoggend Sondag, 7 Januarie 2018 op die plaas waar hy saam met sy ouers en 'n broer tuisgegaan het, verskeie skote begin afvuur.
Sy ouers en broer het ten tye van die skietery die perseel vrywillig verlaat en na veiligheid beweeg. Met die polisie en nooddienste se aankoms op die toneel, het Du Toit verskeie kere skote afgevuur en noodvoertuie is in die proses beskadig.
Spesialis-eenhede van die polisie insluitend onderhandelaars asook die openbare orde-eenheid is op die toneel ontplooi. Na urelange onderhandeling het Du Toit homself omstreeks 18:00 aan die polisie oorgegee.
Die polisie het ná Du Toit se inhegtenisname bevestig dat daar nege vuurwapens en 'n groot hoeveelheid ammunisie op die toneel gevind is.
Du Toit is sedert sy inhegtenisname verlede jaar in aanhouding en borgtog is nie aan hom toegestaan nie, aangesien die hof aangevoer het dat Du Toit 'n gevaar vir die gemeenskap inhou en ook omdat hy nie 'n vaste adres gehad het nie.
Die saak duur voort in September wanneer voorvonnisverslae in die hof aangehoor sal word. Adjudant-offisier A Stokes van die Da Gamaskop-polisie se speurafdeling het die saak ondersoek.
Lees vorige artikels:
- Pleitooreenkoms vir Brandwag-skieter
- Steeds geen borg vir Brandwag-skieter
- Brandwag-skieter kry nie borg
- Skietdrama op plaas
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'