Update
MOSSELBAAI NUUS - Die man wat in Januarie 2018 vanuit 'n plaashuis in die Brandwag-omgewing op nooddienspersoneel losgebrand het, was verlede week weer voor die hof.
Leroi du Toit het vroegoggend op Sondag, 7 Januarie 2018 op die plaas waar hy saam met sy ouers en 'n broer tuisgegaan het, verskeie skote begin afvuur.
Sy ouers en broer het ten tye van die skietery die perseel vrywillig verlaat en na veiligheid beweeg. Met die polisie en nooddienste se aankoms op die toneel, het Du Toit verskeie kere skote afgevuur en noodvoertuie is in die proses beskadig.
Spesialis-eenhede is op die toneel ontplooi en na urelange onderhandeling, het Du Toit homself aan die polisie oorgegee.
Die polisie het ná Du Toit se inhegtenisname bevestig dat daar nege vuurwapens en 'n groot hoeveelheid ammunisie op die toneel gevind is.
Du Toit is sedert sy inhegtenisname in aanhouding.
Anders as wat voorheen berig is, het Du Toit ten tye van sy hofverskyning verlede week Donderdag, 11 Februarie op 12 aanklagte teen hom skuldig gepleit.
Volgens inligting, het Du Toit reeds etlike kere tydens sy verhoor van regsverteenwoordiging verander en is die klagstaat tydens die regsproses ook aangepas. Dit sluit ses aanklagte van roekelose bedreiding van 'n persoon of eiendom, vyf aanklagte van kwaadwillige besering van 'n persoon en/of beskadiging van eiendom in, asook 'n klag van die besit van 'n vuurwapen en ammunisie met die intensie om 'n misdaad te pleeg of arrestasie te verhoed.
Die saak word ondersoek deur ao A Stokes van die Da Gamaskop-polisie. Die saak dien weer op 26 Maart voor die hof.
Lees vorige artikels:
- Brandwag-skieter skuldig op 24 aanklagte
- Pleitooreenkoms vir Brandwag-skieter
- Steeds geen borg vir Brandwag-skieter
- Brandwag-skieter kry nie borg
- Skietdrama op plaas
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'