Update
MOSSELBAAI NUUS - Na verskeie hofverskynings sedert sy in hegtenisname, is beslis dat die 39-jarige man wat op Sondag, 7 Januarie polisie urelank laat bontstaan het terwyl hy vanuit 'n plaashuis in die Brandwag-distrik op hulle en ander nooddienswerkers gevuur het, in aanhouding sal bly en dat borgtog nie toegeken sal word nie.
Die hof het as rede aangevoer dat die skieter, Leroi du Toit 'n gevaar vir die gemeenskap inhou en ook dat hy nie 'n vaste adres het sou borgtog toegestaan word nie.
Op Sondag, 7 Januarie toe die voorval plaasgevind het, was Du Toit se ouers by wie hy tuisgegaan het, asook 'n broer van hom in die plaashuis toe die skietery vroegoggend begin het.
Hulle het later vrywillig die perseel verlaat en na veiligheid beweeg.
Met die polisie en nooddienste se aankoms, het Du Toit verskeie kere skote gevuur en voertuie is in die proses beskadig.
Spesialis-eenhede van die polisie insluitend onderhandelaars asook die openbare orde-eenheid is op die toneel ontplooi.
Na urelange onderhandeling het Du Toit homself omstreeks 18:00 aan die polisie oorgegee.
Etlike rondes ammunisie is op die toneel gevind, asook verskeie vuurwapens waarop die polisie beslag gelê het.
Du Toit staan tereg op aanklagte van poging tot moord, rig van 'n vuurwapen en opsetlike saakbeskadiging.
Die saak is uitgestel na 29 Maart vir verdere ondersoek.
Lees vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'