Update
MOSSELBAAI NUUS - Die 39-jarige man wat op Sondag, 7 Januarie urelank amok gemaak het toe hy sedert vroeg die oggend op 'n plaas in Brandwag aan die skiet geraak het, was vandeesweek weer voor die hof in Mosselbaai.
Hy het op 17 Januarie voor die hof verskyn om 'n borgaansoek te bring. Sy eerste verskyning was verlede week Woensdag, 10 Januarie.
Die man, wie se ouers en 'n broer ten tye die voorval aanvanklik saam met hom in die plaashuis was, het later die dag ongedeerd en vrywillig na veiligheid beweeg.
Hoewel amptelike terugvoering vanaf die skiettoneel aanvanklik daarop gedui het dat 'n gyselaarsdrama hom afspeel, word die teendeel tans beweer.
Die man het glo wel aggressief teenoor sy huismense opgetree word berig.
Verskeie polisie-eenhede insluitend die openbare orde-eenheid, onderhandelaars en lede van die taakmag was op die toneel.
Na urelange onderhandeling, het die man homself teen 18:00 vrywillig aan die polisie oorgegee nadat hy volgens inligting reeds vroeg die oggend al begin skiet het.
Die man het ook op polisielede, nooddienswerkers en verkeersbeamptes wat vroeër die dag na die toneel ontbied is, gevuur.
Polisievoertuie en 'n ambulans is in die proses beskadig.
Met die man se in hegtenisname is daar op nege vuurwapens, wat gewere van 'n hoë kaliber, 'n haelgeweer asook 9-mm pistole ingesluit het, asook 'n groot hoeveelheid ammunisie beslag gelê.
Die 39-jarige beskuldigde staan tans tereg op 'n aanklag van poging tot moord.
Die moontlikheid dat verdere klagte bygevoeg kan word, is nie uitgesluit nie.
Tydens Woensdag se hofverskyning, het die verdediging glo verskeie redes aangevoer waarom die borgaansoek uitgestel moes word na 'n volgende datum.
Die hof het versoek toegestaan en die borgaansoek is uitgestel an die volgende hofdatum op 23 Januarie.
Die saak word ondersoek deur ao A Stokes van die Da Gamaskop-speurafdeling.
Lees 'n vorige artikel: Skietdrama op plaas
ARTIKEL: CORNELLE CARSTENS, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'