MOSSELBAAI NUUS - 'n 52-jarige man wat tydens dieselfde voorval 'n 43-jarige man vermoor het en twee vroue, waarvan een blind en die ander een swanger was, met 'n mes aangeval het, is onlangs tot meer as 20 jaar gevangenisstraf gevonnis.
Karel Smit (52) het op 2 Oktober 2013 by 'n woning in Valleystraat, Brandwag in 'n woordewisseling met sy 34-jarige swanger vriendin betrokke geraak, toe die oorledene, Garnett Booysen en 'n 47-jarige blinde vrou tussenbeide getree het.
Smit het tydens die onderonsie vir Booysen 'n noodlottige steekwond toegedien. Beide vroue het ook in die proses meswonde opgedoen in die maag, nek, arm en bors.
Smit het tydens vonnisoplegging op die klag van moord, 15 jaar gevangenisstraf ontvang. Op die ander klagte teen hom, naamlik poging tot moord en aanranding met die opset om ernstig te beseer, het hy onderskeidelik vyf jaar en een jaar gevangenisstraf ontvang. Vir die besit van mandrax, het hy 30 dae gevangenisstraf, opgeskort vir drie jaar ontvang.
Die voorsittende beampte in die saak was landdros JC Nortjé en die saak is susksesvol ondersoek deur kst Thami Canda van die Da Gamaskop-polisie.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'