MOSSELBAAI NUUS - 'n Vragmotorbestuurder wat vir 'n plaaslike petroleummaatskappy werk, is in die plaaslike landdroshof tot drie jaar gevangenisstraf gevonnis vir diefstal.
'n Saak van diefstal van brandstof is deur South Cape Petroleum geopen in Maart 2019 nadat diesel ter waarde van R61 000 gedurende die tydperk vanaf Desember 2017 tot Januarie 2018 vermis geraak het.
Getuienis het aan die lig gebring dat die vragmotorbestuurder (37) tydens langafstandritte, diesel aan individue verkoop het.
Tydens die verhoor op 22 Mei, is die beskuldigde in die Mosselbaai-landdroshof skuldig bevind en gevonnis tot 36 maande gevangenisstraf wat in geheel opgeskort is vir 'n tydperk van vyf jaar. Buiten die gevangenisstraf, moet die beskuldigde die bedrag van R61 000 oor 'n tydperk van drie jaar terugbetaal.
Die saak is ondersoek deur ao A Stokes van die Da Gamaskop-polisie se speurafdeling. Die speurfhoof, kol Maurice van Egmond het ao Stokes gelukgewens met die suksesvolle ondersoek.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'