MOSSELBAAI NUUSFLITS - Twee mense, waaronder die drie-jarige Jaylene Muller het omgekom in 'n brand wat Saterdagnag hul woning verwoes het.
Annelie Muller en Jaylene Muller se liggame is deur brandbestryders gevind nadat die brand by 'n woning in Cheriokeestraat, Highway Park, geblus is.
Dit blyk dat 'n man, Lorentthius Robertson iets verdag geruik en ondersoek ingestel het toe hy rook opgemerk het wat uitgeborrel het van 'n houtstruktuur wat teenaan 'n formele huis gebou was.
"Robertson het die deur van die struktuur oopgetrap in 'n poging om hulp te verleen.
"Toe hy 'n liggaam opmerk, het hy die hulp van die nooddienswerkers en KwaNonqaba-polisie ingeroep.
"Nadat die brandbestryders daarin geslaag het om die vlamme te blus, is die ander liggaam in die puin van die huis ontdek.
"Beide persone is deur die ambulanspersoneel op die toneel dood verklaar. Die oorsaak van die brand word ondersoek," aldus die KwaNonqaba-polisie se woordvoerder, sers Kapp.
Enige persoon met inligting oor die voorval word versoek om die KwaNonqaba-polisie (044 606 5600) te kontak.
Lees meer in Vrydag se Mossel Bay Advertiser, asook aanlyn.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'