MOSSELBAAI NUUS - Die Mossel Bay Advertiser se braaibroodjie-kompetisie vind die komende Saterdag, 17 September by die ATKV Koswerf Restaurant in Hartenbos plaas.
Lesers en inwoners is welkom om 'n draai by die geleentheid te maak om te sien wie Mosselbaai se braaibroodjie-meester is.
Die vyf finaliste se braaibroodjies gaan om 13:00 op die kole gesit word. Die paneel van beoordelaars bestaan onder meer uit burgemeester Dirk Kotzé en sjef Suzaan Rauch.
Die Koswerf sal op die dag braaimandjies teen billike pryse verkoop wat besoekers kan aankoop. Dit bestaan uit 'n verskeidenheid gaar vleisdisse. 'n Kontantkroeg is ook beskikbaar.
Groot pryse is op die spel en te danke aan die volgende borge gaan die wenners nie met leë hande huis toe nie.
Dankie aan:
- Hartenbos ATKV-oord vir die borg van naweekverblyf vir ses mense;
- Brink & De Bruin Oogkundiges vir die borg van 'n Oakley of Rayban sonbril;
- Botlierskop vir 'n wildsrit vir twee mense;
- Albert Wiffen vir die borg van 'n geskenkbewys van R400;
- SSK Agriland Mosselbaai vir pryse ter waarde van R1 000;
- Reebok Superette vir die borg van hout en Theo Pauw van Theo Pauw Fisioterapie vir 'n kontantbydrae van R1 000.
Die Voorsitter van Round Table Mossel Bay 32, AB Tromp sal Saterdag die braaibroodjie-kompetisie se seremoniemeester wees.
Tromp is ook die vise-voorsitter van Round Table Suid-Kaap. 'n Voormalige voorsitter Paul Hoeksema gaan ook deel van die geleentheid wees. Besoekers word versoek om blikkieskos saam te bring wat aan die Round Table geskenk sal word vir oorhandiging aan 'n behoeftige instansie.
Die vyf finaliste wat sake gaan uitspook om te sien wie Mossel Bay Advertiser se 2022 braaibroodjie-wenner is, is: Cathryn en Pieter le Roux, Tanya Naude, Alida Stander, Heidi Serfontein en Delmaine van der Merwe.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'