MOSSELBAAI NUUS - Delvin Safers, 'n oorlewende van die gebouramp in George, is besig om 'n boek te skryf oor sy oorlewingstryd met dié ramp.
Hy doen 'n beroep op die sakesektor en die breë publiek om hom by te staan met donasies, wat gebruik sal word om die publikasie van die boek moontlik te maak.
Gedurende Mei, toe die gebou ineengestort het, het Delvin se storie van hoop plaaslik en internasionaal opslae gemaak in 'n tyd toe hoop vir oorlewendes in die ramp maar min was - hy was vir meer as 20 ure onder bourommel vasgevang terwyl sy naasbestaandes angstig gewag het op enige nuus.
Verskeie aspekte het Delvin deurgedra in daardie ure onder die bourommel, maar sy geloof en die hoop om sy 2-jarige seuntjie weer te sien, het 'n groot rol gespeel.
"Daar is baie min stories waar gewone werkers as helde uitgebeeld word en dit is uiters skaars dat ons stories rondom 'n ramp sien waar die medemenslike medelye so sterk na vore kom," sê hy.
Dit is hiermee in gedagte dat hy besluit het om sy storie in 'n boek vas te vang. Hy sê dit help hom nie net om deur sy trauma te werk nie, maar sal ook hopelik dien as inspirasie vir die wat dit nodig het.
Dit is hierdie wonderlike verhaal van hoop wat hy graag met die land wil deel en dit verdien regtig om vertel te word.
"Die boek bevat 'n gedetailleerde, nog nooit tevore vertel, weergawe van die ervaring en wonderlike foto's om die verhaal aan te vul. Die boek bevat ook al die dramatiese elemente van 'n groot verhaal wat sekerlik lesers sal boei," sê hy.
Delvin wil die boek self publiseer, en daarmee saam kom natuurlik verskeie kostes. Soos die ondersteuning wat hy en sy familie tydens die ramp gekry het, hoop hy om ook met die boek dieselfde ondersteuning te ontvang.
Hy sê donateurs sal spesiale erkenning in die boek ontvang.
"Hulle sal ook blootstelling geniet by die persvrystelling, openbare bekendstelling en op sosiale media platforms.
Sou enige lid van die gemeenskap 'n bydra wou maak tot dié projek, kan hulle Delvin kontak by delvinsafers94@gmail.com, bel op 065 725 5202, of WhatsApp op 060 714 8339.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’