MOSSELBAAI NUUS - Lede van die gemeenskap het Maandagaand die koue trotseer om 'n petisie aan die Mosselbaai-munisipaliteit te oorhandig teen die oprigting van 'n fasiliteit in waar vullis afgelaai sal kan word. Die fasiliteit sal aan die onderpunt van Alhofrylaan, D'Almeida, langs die AGS Kerk wees.
Die groep het geduldig op die aankoms van uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal gewag.
Hulle was nie tevrede om met enige van die ander munisipale afgevaardigdes te gesels nie en het aangedring dat raadsheer Levendal die petisie in ontvangs neem.
Raadsheer Levendal het wel die gegriefdes te woord gestaan en die petisie ontvang nadat hulle 'n geruime tyd op hom gewag het.
Pastoor Pieter Kees van die AGS-gemeente in Alhofrylaan was baie uitgesproke oor die bou van die sogenaamde "oorlaaistasie", aangesien dit syns insiens 'n gesondheidsrisko inhou. 'n Lid van die gemeenskap, Sylvia Jansen, wat die petisie oorhandig het, het sterk kapsie gemaak teen die voorgenome planne en het raadsheer Levendal sewe dae gegee om terugvoering aan die gemeenskap te gee rakende hulle griewe.
Gereelde klagtes
By navraag oor die insident, het die Mosselbaai-munisipaliteit bevestig dat dit nie 'n oorlaaistasie is wat gebou word nie, maar dat dit wel 'n aflaaiplek vir vullis sal wees.
Histories, was daar voorheen 'n stortingsterrein op dieselfde plek. Die munisipaliteit het werklik baie probleme met onwettige storting reg langs die AGS Kerk en net langs hulle ingang. Die kerk het op 'n weeklikse, selfs meer gereelde basis gekla oor die vullistorting.
Daar is toe besluit om 'n oprit te bou vir 'n paar vullishouers (skips) waar mense wat wil kom vullis stort dit op 'n ordelike wyse kan doen.
"Die kerk weet 'n geruime tyd reeds van die planne en die gemeenskap, diegene vir wie die onwettige storting 'n probleem is, verwelkom die nuwe fasiliteit. Met die oprit kan 'n kruiwa of voertuig maklik op en af ry en die vullis maklik stort en die munisipaliteit sal dan sorg dat die vullsihouers skoon bly. Die plek sal netjies omhein wees en baie beter lyk as wat dit tans daar uitsien," berig Nickey le Roux, munisipale woordvoerder.
Raadsdame Venolea Fortuin, 'n lid van die gemeente en baie betrokke by die gemeenskap, kan glo getuig dat daar nog nooit enige probleme met die planne was nie, behalwe dat die begroting daarvoor effe gesloer het.
"Die probleem wat dikwels in die verlede ondervind is, is dat skips wat nie behoorlik omhein en beheer word nie en nie vir die gemeenskap toegangklik gemaak word nie, 'n gemeenskapsoorlas word. Dikwels kan kinders nie vullissakke tot binne in die skip gooi nie, wat meebring dat vullissakke buite die skip gelos word. Uiteindelik skeur rondloperhonde dit stukkend, wat meebring dat die rommel versprei. Daar is ook heelwat voorbeelde van brandstigting deur kwaaddoeners wat meebring dat vullis binne in die skip soms smeul en 'n verdere oorlas word.
"Die munisipaliteit se beplanning het ten doel om die area tot voordeel van die gemeenskap op te ruim deur die skip meer toeganklik te maak vir kinders en persone wat tuinvullis met kruiwaens aanry. Die heining sal kwajongens se toegang verhoed," sê Le Roux.
Sylvia Jansen oorhandig die petisie aan uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal.
Die vullisprobleem by die grensheining langs die AGS Kerk in Alhofrylaan word in die hierddie foto duidelik aangedui.
'n Lugfoto dui die area aan waar vullisstorting die munisipaliteit genoop het om 'n nuwe fasiliteit op te rig waarteen die gemeenskap nou kapsie maak.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'