MOSSELBAAI NUUS - 'n Voetganger is dood 'n dag na hy op die R328 by Sonskynvallei, Hartenbos, deur 'n motorfiets raakgery is. Die 68-jarige motorfietsryer is ook per ambulans vir behandeling na 'n plaaslike hospitaal geneem.
Volgens die kommunikasiebeampte van die Da Gamaskop-polisie, kapt Wollie Fourie, het die botsing Sondag, 9 September omstreeks 15:40 plaasgevind.
"'n Agt-en-sestigjarige motorfietsryer van Hartenbos, het op sy 800CC Honda-motorfiets in die rigting van Hartenbos gery toe 'n voetganger, Reagen Wolhuter (33) voor hom ingeloop het. Hulle het in die middel van die padoppervlak gebots. Beide is deur ambulansdienste hospitaal toe geneem. Wolhuter is op Maandag, 10 September in die George-hospitaal dood verklaar," het Fourie verduidelik.
Die polisie se ondersoek na 'n klagte van roekelose en nalatige bestuur is verander na strafbare manslag. Weens die strafregtelike ondersoek word die motorfietsryer se naam van publikasie weerhou.
Intussen het Wolhuter se moeder, Lillian Andrews, teenoor die Mossel Bay Advertiser beweer dat daar onderonsies tussen Wolhuter se familie en hospitaalpersoneel was oor sy behandeling en versoeke om pynstillers wat geweier is.
"Kort na my baby seun gevra het vir 'n pynpil en dit nie gekry het nie, is hy oorlede. 'n Verpleër het nog vir my gesê ek moet ophou kla, toe ek haar gesmeek het om 'n pynpil," het Andrews gesê.
Nadia Ferreira, woordvoerder vir die departement gesondheid binne die Wes-Kaapse regering, het oor die voorval en pasiënt se behadeling soos volg kommentaar gelewer: "'n Pasiënt wat aan die beskrywing voldoen is Sondag, 9 September in Mosselbaai-hospitaal se noodeenheid behandel en opgeneem. Die pasiënt is gestabiliseer en verwys na die George-hospitaal vir verdere spesialisbehandeling.
"Die pasiënt se toestand het egter op pad George toe verswak en hy is oorlede net na aankoms by die George-hospitaal. Ons innige simpatie met die familie en vriende gedurende hierdie moeilike tyd. 'n Nadoodse ondersoek sal gedoen word en terugvoering sal aan die familie gegee word."
'n Roudiens word môre, Saterdag 22 September om 10:00 in die El Shaddai Baptiste Kerk, Mosselbaai, vir Wolhuter gehou.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'