Update
MOSSELBAAI NUUS - Kerkgangers is geskok toe twee mans, waarvan een later vanweë sy beserings dood is, deur 'n 85-jarige vrou by die Hartenbos NG Kerk raakgery is. Volgens 'n woordvoerder van die Da Gamaskop-polisie, het die vrou haar voertuig in trurat gesit, waarna sy na bewering beheer oor die voertuig verloor en die mans in die proses getref het. Die voorval het op Sondag, 11 November om 10:20 na afloop van die erediens plaasgevind.
'n Drie-en-sestigjarige man, Jan Erasmus is later die dag in 'n hospitaal oorlede, terwyl die 53-jarige man, Riaan Bester wat ook raakgery is, in 'n hospitaal in Mosselbaai vir sy beserings behandel is. Teen druktyd is bevestig dat Bester uit die hospitaal ontslaan is. Twee voertuie is ook tydens die voorval beskadig.
Volgens inligting verskaf deur die Da Gamaskop-polisie is die dossier verwys na die senior staatsaanklaer vir verdere beslissing oor 'n datum waarop die 85-jarige vrou voor die hof sal verskyn.
Konstabel Ayabonga Lolo van die Da Gamaskop-polisie se speurafdeling ondersoek 'n saak van strafbare manslag.
Kerk reageer
"As leraars van Hartenbos-gemeente wil ons ons hartseer en opregte medelye uitspreek teenoor almal wat deur Sondag se ongeluk geaffekteer en getraumatiseer is," het di Willem Smit en Dawid de Wet, leraars by die gemeente by navraag in 'n verklaring gesê vandeesweek.
Luidens die verklaring was nie een van die gemeente se leraars ooggetuies ten tye van die voorval nie. "Ons het verneem dat die dame beheer verloor het oor haar voertuig en die twee persone in Vegkopweg en ook twee ander voertuie in die parkeergebied raakgery het." Die leraars bevestig dat hulle na die ongeluk op die toneel pastorale ondersteuning gebied het.
"Ons het ook met almal betrokke deur opvolgbesoeke ondersteun. Ons wil ook die betrokkenes verseker van ons bystand in die moeilike tye wat voorlê."
Luidens die verklaring is die vrou wat die betrokke voertuig bestuur het en haar eggenoot oor baie jare gewaardeerde lidmate van die gemeente.
Hulle woon glo steeds in Hartenrus-aftreeoord in hul eie huis.
Die leraars het ook sedert die voorval ondersteuning aan die vrou gebied.
"Die beseerdes is nuwe lidmate van ons gemeente, wat onlangs hierheen verhuis het. Al die betrokkenes het die erediens bygewoon."
Jan Erasmus word vandag, 16 November om 10:00 vanuit die NG Hartenbos begrawe.
Lees 'n vorige artikel hier: Man na kerk doodgery
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'