MOSSELBAAI NUUS - Die bekroonde skrywer Lien Botha het verlede Vrydag haar jongste boek, Vin, by die Mosselbaai-leeskring bespreek.
Sy en haar man, die argitek Raymond Smith, het van Bettysbaai gekom en die oggend saam met 'n groep van sowat 20 belangstellendes deurgebring.
Die boek het gloeiende resensies van, onder andere Johathan Amid, Kerneels Breytenbach en Jean Meiring gekry. Vin is Botha se tweede boek.
Haar eerste boek, Wonderboom, het verskeie pryse verower, waaronder die Eugene Marais-prys, die Akademie van Wetenskap en Kuns se prys vir 'n debuutwerk. Daar word verwag dat Vin ook baie goed sal vaar.
Kerneels Breytenbach het die boek beskryf as 'n baanbrekerwerk in Afrikaans en internasionaal.
Daar is verwysings na 'n webwerf waarop sowat 400 afbeelding verskyn wat verband hou met die teks. Botha het lesers se vrae beantwoord en 'n paar van die komplekse aspekte van die boek verduidelik.
Lien Botha is ook bekend as 'n kunstenaar en fotograaf en het al as kurator deelgeneem aan verskeie opdragte hier en oorsee.
Vin beeld juis die fassinerende ervarings uit van 'n kurator wat sewe sulke kunsprojekte in verskillende lande help organiseer.
Raymond Smith het baie tot die bespreking bygedra deur aspekte van kuns en argitektuur toe te lig.Belangstellendes wat meer van die Mosselbaai-leeskring wil weet, kan Annelize van Rooyen kontak by vanrooyenannelize@gmail.com
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'