Update
MOSSELBAAI NUUS - 'n Manlike polisielid het 'n skedelfraktuur opgedoen en sy vroue-kollega 'n gebreekte arm nadat hulle gedurende die bywoning van 'n klag van huishoudelike geweld in Ruiterbos deur 'n verdagte aangeval is. Die voorval het op Maandagoggend, 1 Maart omstreeks 03:00 gebeur.
Volgens aanvanklike inligting, is die lede deur 'n 37-jarige man met 'n graaf aangeval, maar die polisie het intussen bevestig dat 'n stomp, metaalvoorwerp tydens die aanval gebruik is.
'n Aanvanklike polisieverklaring lui dat die verdagte met die lede se aankoms nie op die misdaadtoneel by 'n woning in Eerstestraat, Bosbou naby Ruiterbos was nie.
Met hulle vertrek, word beweer dat iemand hulle na die toneel teruggeroep het waarna die verdagte die lede glo aangeval het.
Adjudant-offisier Kobus (Barries) Barnard is glo van agter met 'n stomp, metaalvoorwerp oor die kop geslaan en terwyl sy kollega, konstabel Spelele Siyo hom bygestaan het, het sy ook onder die aanvaller deurgeloop. Siyo het bystand ingeroep en die aanvaller is deur polisielede van Mosselbaai wat die lede te hulp gesnel het, in hegtenis geneem.
Die beseerde polisielede is vandeesweek in die Life Bay View privaat hospitaal behandel, waar beide chirugie ondergaan het. Sersant Kappie Kapp, woordvoerder van die KwaNonqaba-polisie wat medianavrae oor die voorval hanteer het, het Woensdag, 3 Maart by navraag gesê dat beide die lede getraumatiseerd is, maar dat dit onder omstandighede goed met hulle gaan. Volgens Kapp, sou die lede voor die einde van die week moontlik uit die hospitaal ontslaan kon word. Hy het bevestig dat hy met Barnard self gesels het.
Die verdagte in die voorval het op Woensdag, 3 Maart in die Mosselbaai-landdroshof verskyn en word aangekla van aanranding met die opset om ernstig te beseer en poging tot moord. Volgens Kapp het die verdagte ook tydens die voorval 'n beskermingsbevel teen hom oortree wat 'n verdere klag tot gevolg sal hê.
Die verdagte is steeds in aanhouding en verskyn weer vandag, 5 Maart in die hof.
"Die bywoning van klagtes van huishoudelike geweld is 'n uiters plofbare situasie vir lede van die SAPD. Dit is 'n konfliksituasie wat ten beste as 'n tydbom beskryf kan word. Dikwels is dit dinge wat oor 'n lang tyd in 'n verhouding opbou totdat die situasie handuit ruk en lewensgevaarlik kan wees. Ons kon twee lede verloor het," sê Kapp.
"Die SAPD gaan nie toelaat dat lede in die uitvoering van hulle werk deur die gemeenskap aangeval word nie. Die onus is op die gemeenskap om diegene wat hulle aan hierdie misdaad skuldig maak, uit te wys."
Die ondersoekbeampte in die saak is ao Nita Burger van die Da Gamaskop-speurafdeling. Enige ooggetuies wat die voorval sien gebeur het word versoek om Burger te kontak (044 606 2218).
Vorige artikels:
- Man in court after assaulting police officers
- 2 Police members hospitalised following attack in Ruiterbos
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'