MOSSELBAAI NUUS - Transnet hawe-owerheid sê vakansiegangers met bote kan die komende vakansieseisoen van die Mosselbaai-seiljagklub se fasiliteite gebruik maak mits hulle die nodige permitte bekom om hul vaartuie te water te laat. Besoekers sonder bote is welkom om die gebied te besoek mits die haweveiligheidsreëls nagekom word.
'n Vyfjaar huurkontrak is aan die maatskappy, Zambli 84 CC toegestaan om die braaigeriewe by die seiljagklub te bestuur.
Na wat verneem word, is dit dieselfde maatskappy waaronder die restaurant Kaai 4 bedryf word.
Die woordvoerder van Transnet hawe-owerheid in Mosselbaai, Busisiwe Mahlaba sê enigeen kan dus nie van die braaigeriewe by die seiljagklub gebruik maak nie. "Zambli 84 CC is 'n geregistreerde restaurant en besoekers kan die fasiliteit besoek en van die restaurant se dienste gebruik maak."
Mahlaba sê hulle verwelkom alle vakansiegangers na die gebied.
Die seiljagklub was die afgelope paar maande in omstredenheid gedompel nadat die vorige huurder, Mossel Bay Waterfront Pty, glo nie die maandelikse huur betaal het nie en die kontrak tussen Transnet hawe-owerheid en Mossel Bay Waterfront Pty gekanselleer is.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'