MOSSELBAAI NUUS - 'n Mens kan nie verkeerd gaan met 'n boom nie, aldus dr Ernst van Jaarsveld, botanis en tuinboukundige wat sy ryke ervaring en kennis in Hartenbos kom aanbied het as deel van 'n grootskaalse boomplantprojek.
Van Jaarsveld, verbonde aan die spogplaas Babylonstoren, het op Saterdag, 10 Oktober na 'n radio-onderhoud met plaaslike rolspelers gesels oor hulle boomplantdrome wat deel van 'n tasbare nalatenskap op Hartenbos sal word.
Deel van die projek, sluit die plant van minstens 90 bome in om die 90ste bestaansjaar van die ATKV te vier.
Mornay Beukes, die oordbestuurder het Van Jaarsveld op 'n toer deur Hartenbos geneem om die moontlikede te bespreek. Van die idees sluit in om bome, veral vrugtebome op kampterreine te plant en om op hierdie manier, sommer ook gesonde eetgewoontes aan te moedig. Sakevrou en apteker Gerda Visagie, bekend vir haar passie wat 'n gesonde leefstyl betref, staan bankvas agter dié idee en het ook Saterdag se terreinbesoek meegemaak.
'n Boomplantprojek word ook vir Laerskool Hartenbos in die vooruitsig gestel. Die skoolhoof, Werner van Huyssteen het Saterdag vir Van Jaarsveld op die skoolterrein ontvang waar gesels is oor die moontlikheid om bome op die skoolterrein aan te plant. Dit sluit ook moontlik 'n gedenklaning vir voormalige skoolhoofde in.
"Daar is 'n rykdom van boomsoorte om van te kies wat eie aan Suider-Afrika is. 'n Boom kan geplant word met 'n kind se geboorte. Dit sal daardie kind altyd iets gee om op trots te wees. Eintlik kan 'n mens bykans enige verskoning gebruik om 'n boom te plant, solank jy net êrens begin."
Volgens Jan Odendaal, 'n omgewingsak-tivis wat ook deel van die stukrag agter die boomplantprojek vorm, is die konsep om "bome van vriendskap en hoop" te plant. "Wat die skool betref, wil ons ook die kinders van Sonskynvallei spesifiek betrek. Deur bome saam te plant, bou ons ook brûe." Van Jaarsveld sal, na sy besoek en sy kundige assessering van die behoefte, grondtipe en weersomstandighede, 'n voorstel ter tafel lê aangaande die tipe bome wat die beste in die Hartenbos-omgewing sal vaar.
Dr Ernst van Jaarsveld (regs) in gesprek met Werner van Huyssteen, skoolhoof van Laerskool Hartenbos. Foto: Cornelle Carstens
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'