MOSSELBAAI NUUS - 'n Paartjie van Klein Brak was onlangs in 'n motorfietsongeluk betrokke na 'n bok in hulle vasgeduik het.
Vincent Hill en Vanessa Liebetrau was op die R102 van Klein Brak op pad na Hartenbos toe die bok hulle met 'n slag tref.
Hill sê die deel van die pad is alombekend as "Pont se Hoogte".
"Gelukkig het ons stadig gery. By die opdraend het Vanessa geskree 'Bok! Bok!', en met die tweede 'Bok' toe voel ek net 'n slag en iets tref ons van die kant af.
"As sy nie vir my gesê het dis 'n bok nie, het ek nou nog gedink dit was 'Big Foot'," spot hy. Sy is egter vas oortuig dit was 'n bok, alhoewel dit so vinnig gebeur het, dat hulle onseker is van die spesie.
'n Bekommernis van Hill is die veiligheid van ander padgebruikers. Hy sê daar was fietsryers wat net ná hulle daar verby is.
"Ek het baie fiets gery in 'n stadium. Ek kan net raai wat sou gebeur het as daai bok voor vyf fietsryers ingespring het."
Vincent se regterbeen het maar sleg van die ongeluk afgekom.
Die paartjie se doel met hul storie deel is dus hoofsaaklik om ander padgebruikers te waarsku dat daar bokke in die area is en dat hulle versigtig daar moet bestuur/fietsry.
Hulle het 'n hele klomp kneusplekke opgedoen en Liebetrau het vermoedelik 'n rib en gewrig wat gekraak is. Die motorfiets het ook skade gekry.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’