MOSSELBAAI NUUS - Die Boggomsbaai-gholfklub soek net 'n halwe rede om iets aan te pak, veral as hulle daarmee saam ook lekker kan kuier! So het hulle Valentynsdag dan ook verlede Saterdag vroeg laat kom en 'n heerlike gholfdag gereël om die dag van liefde te herdenk - almal was meestal mooi in rooi getooi.
En daar was 'n borg ook, alhoewel hy/sy nie sy/haar naam genoem wou hê nie. Alles heerlik geheimsinnig!
Vyf vierballe het in 'n Alliansiekompetisie meegeding waar net een speler se Stablefordtelling op elke putjie getel het en dit was dan ook heeltemal gepas dat die vierbal met twee vroue in die span die wentelling van die dag aangeteken het. 1. Flaps Winterbach, Isabel Geldenhuys, Cassie Swanepoel en Lynn Marais 48 en 2. Johan en Noelien Kemp, Johan Muller en Ernest Roux 47.
Die twee naaste aan die penne is gewen deur Marius Geldenhuys op 6/15 en Johan Kemp op 9/18.
Die wenners op Boggies se Valentynsdag, agter: Ernest Roux, Johan Kemp en Johan Muller. Middel: Cassie Swanepoel, Isabel Geldenhuys, Flaps Winterbach en Lynn Marais. Voor: Noelien Kemp.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'