Twee boesemvriende, Chandré September (23), alombekend as Seppie, en Jenesto Jansen (21), is noodlottig beseer toe die Honda-sedan waarin hulle en twee ander vriende, Damian Mentoor en Leveil Elms, gery het, deur ‘n Volkswagen Golf GTi getref is by die kruising van Louis Fourieweg en Mayixhalestraat, KwaNonqaba.
Die impak van die ongeluk het die Honda in twee geskeur. Mentoor en Elms, wat die voertuig bestuur het, asook die vroulike passasier in die Volkswagen is gehospitaliseer vir hulle beserings.
Die bestuurder van die Volkswagen het ligte beserings opgedoen.
Elms het ingestem vir 'n telefoniese onderhoud met die Advertiser, maar was te getraumatiseerd om die gesprek te voltooi.
"Ek is geskeur," het hy gesê.
Almal se pêl
Soos sy pa, kapt Seppie September van die SAPD Mosselbaai wat op sy dag as kaptein vir die Barbarians uitgedraf het, was Chandré ‘n kranige rugbyspeler. Hy was verbonde aan Mosselbaai-Rugbyklub, waar Jenesto ook gespeel het. Volgens Kosie Jansen, Jenesto se pa, is dit glo hier waar die twee se vriendskap geblom het.
“Chandré was almal se pêl,” vertel Ao Pieter Koekemoer kommunikasie-beampte van die SAPD Mosselbaai, voor wie Chandré, die oudste van twee seuns, so te sê grootgeword het.
"Dit was altyd lekker om hom te sien, want hy het grootmense altyd met respek behandel."
Carl Terblance, ‘n nabye vriend wat glo sedert kleuterdae met Chandré bevriend was, beaam dat hy ‘n baie innemende geaardheid gehad het. “Chandré het baie gou vriende gemaak en ‘n wonderlike vermoë gehad om mense te bemoedig. Daar was hy nes sy pa; hy het moeite gedoen met mense."
Carl meen dat hy hulle oop gesprekke en al die dinge wat hulle altyd saamgedoen het soos die ‘touchies’ en swem op Santosstrand die meeste sal mis. Hy het Chandé om 23:00 verlede Vrydag, enkele ure voor sy dood, min wetend vir die laaste keer by vriende se huis gegroet.
Kapt September sê dat daar te veel dinge van sy oudste is wat hy sal mis.
“Dis ‘n verskriklike groot skok. Ek verwag maar steeds dat die ou enige tyd weer by die huis sal aankom."
‘Ons het vrede gemaak’
‘n Foto van Jenesto Jansen, geneem op sy 21ste verjaarsdag in Maart vanjaar, staan tussen ‘Innige simpatie’-kaartjies op uitstalkas in sy ouerhuis.
“Hy was ‘n liefdevolle kind met gesonde respek vir ouermense,” meen sy ma, Rosa.
Sy pa Kosie praat vinnig saam oor hierdie derde van hul vier kinders se borrelende geaardheid.
“Hy het sy eie way gehad en was ‘n mensemens wat ander na hom toe aangetrek het,” vertel Kosie.
Hierdie eienskappe blyk ook uit kommentaar van Jannie Prinsloo, president van die Mosselbaai-rugbyklub waar beide jongmans betrokke was.
“Beide Chandré en Jenesto was baie lojale spelers wat nie oefeninge misgeloop het nie. Nesto was die organiser en ‘n mens kon altyd op hom staatmaak om dinge te reël. Seppie kon weer speel net waar jy hom in die span plaas, sonder probleme. Die twee was werklik geliefd by die klub.”
Die Jansens sê dat hulle danksy hul geloof in God, kon vrede maak met Jenesto se dood.
“Daarom kan ons cope en koester ons geen wraakgedagtes nie. Ons kry wonderlike ondersteuning. Ook van die families van die ander jongmense betrokke in die ongeluk.”
Maar, dis die klein goetertjies wat hulle mis. Soos skoene wat êrens lê of ‘n kledingstuk wat uitgetrek en neergegooi is.
“Dan vra ons maar ons vrae en die trane vloei.”
Saam begrawe
‘n Troosdiens is Woensdagaand vir Jenesto gehou in die VGK, waaruit hy Saterdag om 10:00 begrawe sal word. Die huisdiens is om 09:00 by Ysterhoutsingel 10.
Chandré se troosdiens was gisteraand in die St Blaize Katolieke-kerk, waaruit hy op dieselfde tyd as Jenesto, om 10:00 begrawe sal word. Die huisdiens is om 09:00 by Tolbossingel 49.
Volgens beplanning sal die twee stoete saam na die begraafplaas beweeg, waar die twee vriende, soos ooreengekom deur hulle families, langs mekaar begrawe sal word.
Klik hier vir 'n verwante artikel.

Chandré (Seppie) September, bekend vir sy innemende geaardheid, het gou vriende gemaak. Foto: Verskaf
Jenesto Jansen op sy 21ste vejaarsdag in Maart vanjaar.
Rosa en Kosie Jansen.
ARTIKEL: CORNELLE CARSTENS, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'