MOSSELBAAI NUUS - ‘n Boer uit die Kleinberg-omgewing het vandeesweek verdere skade gely nadat honde onder sy skape ingeklim en etlike diere doodgebyt het.
Volgens die boer het hy sedert verlede week 27 skape verloor, terwyl 14 vir bytwonde behandel word.
Die laaste voorval waartydens honde onder sy vee amok gemaak het, het gisteraand 11 Augustus plaasgevind. “Ek het drie honde gesien, waarvan een swart en ‘n ander bruin is.”
Die boer het bevestig dat personeel van die Mosselbaai-tak van die Tuinroete Dierebeskermingsvereniging hom vandag bygestaan het. “Ons het rondgery, maar kon nie veel uitrig nie.”
Die boer sê hy voel daar behoort ‘n wetswysiging gedoen te word betreffende die aanhou van honde in landelike gebiede.
“In Desember is 40 van ons jong volstruisies binne hulle skuiling op die werf doodgebyt en beseer. Ons het R100 000 se skade gehad. Ons voel werklik uitgelewer.”
Die boer sê dat rondloperhonde nie hulle enigste kopseer is nie, maar dat veediefstal ook aan die orde van die dag is.
Sersant Kappie Kapp, kommunikasiebeampte van die KwaNonqaba-polisie het lede van die landelike gemeenskap aangemoedig om sodanige sake onverwyld aan te meld. “Die polisie sal dan ‘n saak van kwaadwillige saakbeskadiging ondersoek of die eienaars van die honde kan aangekla word vir loslopende diere.”
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'