MOSSELBAAI NUUS - 'n Groep boere van Brandwag het vandeesmaand reaksiemag-opleiding ontvang, gefasiliteer deur AfriForum.
Die 12 boere, wat bekend staan as die AfriForum groter Brandwag- plaaswag, sluit die gebiede Brandwag, Leeukloof/Hamelkop en Ruiterbos in.
Murray van der Merwe van AfriForum het die sessie, wat by 'n privaat opleidingskamp buite Mosselbaai gehou is, aangebied.
Die doel vir hierdie opleiding was om die plaaswag se reaksiespan, wat moontlik eerste op die toneel van 'n plaasaanval of verwante voorval sal arriveer, op te lei om die situasie te hanteer totdat die polisie opdaag.
Phillip Goodger en Joe Geldenhuys van Tiger Kai/Krav Maga was aan die woord tydens die opening met ‘n baie insiggewende lesing aangaande selfverdediging by ‘n misdaadtoneel.
Phillip en Joe bespreek die veg-, vlug- of vriesreaksie tydens misdaad.
Die effek van angs of vrees is behandel asook die belangrikheid van die kleurkode met betrekking tot gereedheid en optrede van ‘n individu.
'n Groepinstrukteurs het ook later gedurende die kursus opleiding gegee aangaande hoe om op te tree in verskillende scenarios wat tydens 'n plaasaanval ondervind kan word.
Elke reaksiemaglid het ‘n volledige handleiding ontvang.
Ronel en Thys Steenkamp van SHE CAT het 'n noodhulpkursus aangebied. Hulle het die 3 H’s (hazard, hello and health) behandel asook die ABC van eerstehulp is beklemtoon.
Die metode om ‘n toerniket aan te wend en die toepassing van kardio-pulmonêre resusitasie is behandel. Elke reaksiemaglid het ‘n volledige handleiding ontvang.
Die kursus is op die skietbaan afgesluit onder streng toesig van die Tiger Kai-instrukteurs.
Na hierdie geslaagde twee dae van intensiewe opleiding is die groter Brandwag-plaaswag tevrede dat hul reaksiemag tydens ‘n insident op ‘n plaas hulself sal kan handhaaf totdat die polisie opdaag om die insident oor te neem.
Hierdie opleiding is finansieel moontlik gemaak deur AfriForum.
Vir navrae aangaande die plaaslike tak, kontak AfriForum, stuur 'n SMS met jou naam en Mosselbaai na 45265. AfriForum sal terugskakel.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'